Liggaam van nog twee tieners uit see gehaal

Die soektog na die vierde vermiste tiener duur voort. (Foto: Leon Knipe/ANA)

Die polisie soek nog na een van die vier tieners wat Sondag in die see in Seepunt vermis geraak het.

Die liggaam van ʼn tweede en derde tiener is intussen uit die see by die Rocklands-strand in Kaapstad gehaal.

Die vier jong mense, almal buitelanders, het Sondag in rowwe seetoestande by ʼn strand in Seepunt gaan swem toe ʼn golf oor hulle gespoel en hulle in ʼn sleurstroom beland het.

ʼn Omstander het hulle probeer help, maar het óók in die moeilikheid beland en ʼn branderryer moes dié persoon weer uit die water help.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ʼn verslaggewer van Cape Times die liggaam van nog een van die vermiste kinders laat gistermiddag opgemerk en die owerhede om 17:37 ontbied.

In ʼn “beheerde omgewing” en met verskeie ondersteuningsbeamptes om na die vermiste tieners se familielede en vriende te help omsien, het polisieduikers ten spyte van die rowwe seestoestande die liggaam van ʼn 15-jarige meisie uit die water gebring, het die NSRI gesê.

Kort daarna is die liggaam van die derde tiener ook opgemerk en het polisieduikers die 16-jarige seun se liggaam na die strand gebring.

ʼn Grootskaalse soektog is Sondagmiddag van stapel gestuur nadat die liggaam van ʼn 15-jarige seun van Burundi dieselfde middag gevind. Drie ander ongeïdentifiseerde branderryers het die kind se liggaam in die water opgemerk en op een van hul branderplanke gelaai. ʼn Reddingswemmer van die NSRI het daarheen geswem en op die branderplank met kardiopulmonêre resussitasie begin. ʼn Reddingsboot het hulle na die strand geneem waar pogings voortgesit is om die seun weer by te bring. Hy is egter op die toneel dood verklaar.

“Die NSRI en die polisie wil die verslaggewer van Cape Times loof wat alarm gemaak en gehelp het met die suksesvolle opsporing van die liggame.

“Polisieduikers en die Seepunt-polisie gaan voort met die soektog na die 18-jarige man wat steeds vermis word. Ons gedagtes is steeds by sy familie en vriende,” het die NSRI gesê.

“Die NSRI, Seepunt-polisie, die polisie se duikeenheid, wetstoepassers en die nooddienste bedank ook die gemeenskap van Seepunt en groter Kaapstad vir die medelye en waardigheid wat hulle gister en Sondag op die toneel van dié tragedie op die Rocklands-strand gewys het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Angel ·

Bitter hartseer tyd vir die ouers van hierdie kinders , Mag die Vader sy vertroostende hand oor hulle hou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.