Liggaam van vasgekeerde Implats-myner gevind

Argieffoto

Argieffoto

Die liggaam van ʼn mynwerker by Impala Platinum in Rustenburg, is gevind.

“Die liggaam van Ohemile Moses Maamogwa is gevind,” het Johan Theron, woordvoerder van Implats, gesê.

Mammogwa (55), oorspronklik van Morokweng in Vryburg, se liggaam sal nou na die oppervlak gebring word.

Theron het gesê mynbestuur, lede van die departement van minerale hulpbronne en lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) bied steeds ondersteuning aan Maamogwa se familie.

“Die intensiewe soektog en reddingsoperasie het onverpoosd in uitdagende en onstabiele grondtoestande voortgeduur,” het hy bygevoeg. Die soektog is uitgevoer deur gespesialiseerde mynreddingspanne van Impala Platinum en die Mynreddingsdiens (MRS), wat deur die departement ondersteun is.

“Hierdie tragiese, pynvolle voorval het ons almal diep geraak,” het Terence Goodlace, hoof uitvoerende beampte van Implats, gesê. “Ons betuig ons meegevoel met ons kollegas se familie en vriende. Hulle bly in ons gedagtes en gebede.”

Implats het bevestig hy sal, in samewerking met die DMR en Amcu, die voorval ondersoek.

Maamogwa en Tanki Samuel Lepitikoe (40), rotsbooroperateurs, is op 17 Mei ondergronds vasgekeer ná ʼn rotsstorting by Implats se skag in Meriting naby Rustenburg. Sewe mynwerkers het ongedeerd ontsnap.

Lepitikoe se liggaam is op 19 Mei gevind. Hy is Maseru, Lesotho, ter ruste gelê.

Bedrywighede by Implats se nr. 1-skag is opgeskort.

Lees alle vorige berigte oor Implats op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.