Liggaam van vasgekeerde myner na oppervlak gebring

Argieffoto

Die liggaam van een van die vyf myners, wat ondergronds vasgekeer is ná ʼn seismiese gebeurtenis Vrydag by Harmony Gold se Kusasalethu-myn naby Carletonville, is na die oppervlak gebring.

“Hy het ongelukkig aan sy beserings beswyk,” het Peter Steenkamp, uitvoerende hoof van die maatskappy, Saterdag laatmiddag in ʼn verklaring gesê. “Ons is baie hartseer oor dié tragiese voorval. Ons het alles in ons vermoë gedoen en sit steeds die poging voort om so vinnig en veilig as moontlik by ons kollegas uit te kom. Ons innige meegevoel aan die familie en vriende van die oorledene.”

Vier werknemers word nog steeds vermis en die reddingspoging sal voortduur totdat hulle gevind is.

Harmony Gold het vroeër gesê spesiaal opgeleide reddingspanne het deurnag gewerk om die vyf mynwerkers te probeer red. Gedeeltes van die myn het ineengestort ná ʼn seismiese gebeurtenis Vrydagoggend omstreeks 10:30 ongeveer 3.1 km ondergrond. Alle mynboubedrywighede is intussen opgeskort.

Lees alle vorige berigte oor die Kusasalethu-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.