Liggaam van vermiste bejaarde gevind

Anthony Turnbill. Foto: Verskaf.

Die liggaam van Anthony Turnbill (77) van Sedgefield in die Wes-Kaap, wat sedert 28 Maart vermis was, is gevind.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê Turnbill se liggaam is Sondag in Begoniastraat in Sedgefield aangetref deur ʼn lid van die publiek.

Turnbill het oorspronklik vermis geraak toe hy sy huis in Sedgefield verlaat het en is die laaste keer lewend gesien by die Engen Garage in Sedgefield op die N2. Hy het ʼn wit frokkie, swart broek en blou Tommy tekkies aangehad.

“Hy is aangetref in die bosse langs die pad met ʼn skietwond aan sy kop en sy vuurwapen wat naby hom gelê het. Geen gemene spel word vermoed nie,” het Pojie gesê

ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Piet Pompies ·

Dit is so jammer die persoon vermoedelik sy eie lewe geneem het. Ons was gedurende Sept 2017 met ‘n besoek by Sedgefield, het die Sondag mark besoek, lekker tradisionele eetgoed gekoop, plek is netjies en skoon. Het die ou motor handelaar besoek en sommer vriende geword. Trotse plekkie!

Kannaland ·

Ons moet meer omgee vir mekaar, ons moet weer uitreik na ons bure, ou vriende, kennisse, kollegas.

Ria ·

Stem volhartig saam. Vandag se lewe is só gejaagd ons lewe verby mekaar. Ek het onlangs verhuis en my nuwe buurvrou langsaan het my meegedeel dat sy in nagenoeg 18 jaar (!!) in Potch nogsteeds nie weet wie al haar onmiddellike bure is nie, bloot omdat mense in die buurt nie belangstel in wat om hul aangaan. Probeer jy vriendelik uitreik, word jy as nuuskierig en vreemd bestempel. Hartseer!! Ek onthou ‘n tyd toe bure nog oor en weer gekuier het en omgegee het vir mekaar. Ons nasie het self-gesentreerd geraak. Elkeen vir homself en duiwel vir die res.

Ek sê, ongeag waar jy jou bevind, maak kennis met die mense in jou omgewing. Soms moet jy self die eerste tree gee. Doen dit.

Andrew ·

Alida, Die vermoede is duidelik, nie die feite nie. In elke geval waar ‘n mens onnatuurlik sterf, moet daar ‘n geregtelike ondersoek wees – verklarings van familie oor moontlike depressie, dwelm-, drank, of substans misbruik, siektetoestande ens., was daar ander wonde aan die liggaam, is daar ‘n brief agtergelaat en baie meer.

Na die ondersoek voltooi is, (insluitend ‘n nadoodse ondersoek) besluit die aanklaer of daar iemand verantwoordelik gehou kan word en moontlik vervolg moet word.

Niemand kan slegs aanneem dat dinge gebeur het soos dit op die oog af lyk nie. So ‘n gebruik sal beteken dat heelwat moorde verberg sal word.

Oom Kalahari ·

RIV Anthony, net jy sal weet wat gebeur het en dit saam met jou graf toe neem. Alle simpatie aan die familie en vriende.

Ekke ·

Baie hartseer om te lewe vir 77 jaar en dan word alles te veel. Simpatie aan die familie.

Linda van Mosselbaai ·

Baie sterkte aan almal betrokke met die man – ons vergeet soms die polisie lede asook die wat die nadoodse ondersoeke doen – tot die begrafnisondernemers. Sterkte familie en almal wat vir hom lief was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.