Liggaam van vermiste man in Hennops: ‘Minstens het ons hom gevind’

Danie Mc Master (27) se liggaam is na ‘n uitgebreide soektog in die Hennopsrivier in Centurion gevind. (Foto: Facebook)

Polisieduikers en ander reddingswerkers wat sedert Sondagoggend na die vermiste Danie Mc Master (27) soek, het sy liggaam vanoggend in die Hennopsrivier, waar dit deur die Zwartkop-gholflandgoed loop, gevind.

“Ons het gebid dat hy gevind word, of dit nou lewend is of is nie, want om só te wonder …” het Mc Master se suster, Michelle Gerber, Maandag gesê.

Volgens haar het Mc Master en ʼn vriend Saterdag omstreeks 23:00 op ʼn laagwaterbrug in Rabiestraat in Centurion in ʼn massa water beland. Die motor het gestaak en was kniediep in die water.

Mc Master en sy vriend het deur die motorvensters uitgeklim, maar daarna is Mc Master nie weer gesien nie, het sy gesê. Hy is vermoedelik deur die water meegesleur toe hy uit die water probeer swem het. Die vriend het Mc Master as vermis by die Lyttelton-polisie gaan aanmeld en ʼn grootskaalse soek-en-reddingspoging is van stapel gestuur.

Sy kollegas kon Gerber en haar man, Conré, se kontakbesonderhede Sondagoggend eers opspoor en in kennis stel dat haar jonger broer vermis word. Gerber het gesê haar broer was ʼn toegewyde werker wat niks sou doen om sy werk in die gedrang te bring nie. Toe Mc Master, ʼn tegniese assistent by ʼn veiligheidsmaatskappy dus nie opdaag nie, het hulle groot onraad vermoed.

“Ons het bly hoop hy is uit die water,” het sy gesê.

Sy het gesê hulle is sedertdien na elke brug in die gebiede waar die soekspan na haar broer gesoek het om die soektog te volg. Iemand op die gholfbaan het Mc Master se liggaam vanoggend in die rivier opgemerk en die polisie daarheen ontbied.

“Ons sal dit nou dag vir dag vat. Ons het hom gekry en dit is waarvoor ons gevra het. Natuurlik het ons gehoop dat hy lewend gevind sou word, maar minstens het ons hom gekry,” het sy gesê.

Gerber het gesê die res van die gesin is reeds op pad na Pretoria waar hulle na die tragedie gaan byeenkom. Die formele uitkenning van haar broer se liggaam sal na verwagting Woensdag gedoen word.

Sy het haar broer as ʼn liefdevolle, hardwerkende jong man beskryf wat eerder self sou kortkom as hy iemand anders kon help.

Volgens haar is hulle ook groot dank verskuldig aan die soekspan, die reddingsduikers en polisielede betrokke. “Hulle was ongelooflik behulpsaam. Ons het daardeur ook ʼn mate van berusting gevind,” het sy gesê.

Maroela Media het ʼn navraag oor die voorval aan die polisie gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marguerite Belcher

Dit is so hartseer, hy was so jonk. Sterkte aan die familie wat agter bly en nou verder moet aangaan.

Donald

Vrede aan die familie!

WIEBO

Mense wil nie leer om nie oor n brug te ry wat oorspoel is nie. Die bestuurder van die voertuig moet aangekla word van manslsag.

Marianka

Ai Michelle…. Niks sal ooit jou seer kan beskryf nie, of wegneem nie. Ons dink aan julle. Sterkte vir jou Corne en kids.

pietie

wiebo maar jy is common om so opmerking te maak na lewensverlies van die familie…..ai Vader tog waar gaan die lewe heen……