Liggaam van vermiste man in Vaaldam gevind

Louis Lötter. Foto: Verskaf

Louis Lötter. Foto: Verskaf

Sedert die kano waarop Louis Lötter (43) Sondagmiddag ten aanskouing van sy nabye vriende op die Vaaldam omgeslaan het, het sy geliefdes daagliks getrou op die oewer gewag vir enige nuus terwyl reddingswerkers onverpoos na hom gesoek het.

Nikita Lötter (20), Louis se dogter, het Woensdag aan Maroela Media gesê haar pa was Sondag oudergewoonte by die Noordbaai-omgewing saam met vriende om vis te vang. “Hy was mal oor visvang. Hy was omtrent elke tweede naweek langs die viswaters. Hy het die dam gereeld besoek en was vertroud met die omgewing,” het ʼn verslae Nikita gesê.

Louis het vroeër die dag die kano gebruik om die lyne diep die water in te neem. “Hy het later vir sy vriende gesê hy gaan bietjie uit die kano visvang en het weer diep ingeroei.”

Hy was ʼn paar honderd meter ver in die water, toe die kano om die een of ander rede omstreeks 16:00 omgeslaan het. Hy het probeer om terug te swem oewer toe, maar het in die moeilikheid beland en onder die water verdwyn.

Nikita het verduidelik haar pa was ʼn asmalyer, wat moontlik die oorsaak kon wees dat hy in die moeilikheid beland het.

Louis se vriende het dadelik hulp ontbied en bemanning van die NSRI-Vaaldam en die polisie was gou op die toneel.

Reddingswerkers op die toneel. Foto: ER24

Reddingswerkers op die toneel. Foto: ER24

Bemanning van die NSRI-Vaaldam het onverpoos na Louis gesoek, maar die soektog is teen die aand weens swak lig afgelas. Die polisie se duikeenheid, honde-eenheid en soek-en-reddingseenheid het die soektog Maandagoggend hervat. Sy liggaam is uiteindelik Woensdagoggend opgespoor en sy gesin kon nou berusting vind.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê niks kon vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar.

“Sedert ons om 17:00 Sondag by die dam opgedaag het, het ons gehoop hy het dalk êrens tot by die oewer kon swem en lewe nog. Maar teen Maandag, toe daar nog geen teken van hom was nie, het ons vir die ergste begin voorberei.”

Louis was jare lank ʼn inwoner van Meyerton, waar hy as ʼn sweiser en ketelmaker gewerk het. Hy is ʼn oudleerling van Hoërskool Dr. Malan en het daar gematrikuleer. Buiten visvang, het hy ʼn groot passie vir motorfietse gehad en aan ʼn plaaslike motorfietsklub behoort.

“Hy was ʼn baie vriendelike, rustige en hulpvaardige mens en het ongelooflik baie vriende gehad. Woorde kan nie beskryf hoe baie ons hom mis nie. Rus sag by Jesus, ek weet pappa is nou rustig,” het sy gesê.

Louis laat sy verloofde, Madelein Croukamp, twee dogters, Nikita en Bianca Rossouw (27), ma, Hester, ses kleinkinders en drie susters agter.

Die gesin beplan ʼn gedenkdiens vir Louis waarna hy veras sal word. Reëlings vir sy gedenkdiens is nog nie gefinaliseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MissDemeanor ·

Aan die familie, jammer vir julle verlies, dit is verskriklik hartseer dat julle jul geliefde so moes verloor. My verloofde se broer is oorlede in ‘n kar-ongeluk, hy het nie ‘n veligheids gordel aangehad nie. Sy ma se hart is gebreek. Mense, as jul in jul kar ry sit jul gordels aan, en as jy op ‘n kano is, selfs in ‘n klein dam op ‘n windstil dag, dra ‘n reddingsbaadjie. Dit spaar ‘n mens se familie soveel verdriet.

Theresa B ·

Ai, ons sal eendag al hierdie dinge verstaan. Mens is so verslae en jou trooswoorde klink altyd so hol en leeg. Maar baie sterkte aan julle almal. Mag die Here julle toevou in sy hande, troos en krag gee vir die troosdiens en dae wat voorlê.

Gesiggie ·

Dit is so hartseer, iemand wat n passie het vir iets, en nou gebeur dit op so n manier… dit was sy ontspanning, als wat hy so geniet het, het tot n einde gekom. Simpatie aan sy Gesin, Familie en vriende….N mens hoor deesdae so baie van mense wat verdink, mense maak seker jul maak voorsiening van n Life jacket, al kan jy swem, dit kan jou dalk net help, indien jy in nood beland.

Walter Graham ·

Baie hartseer. Sterkte van nog n hengelaar aan Louis se famielie,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.