Liggaam van vermiste Oos-Kaap-vrou gevind

Elsa Remant-Eyland (Foto: Facebook)

Die liggaam van ʼn vermiste 67-jarige vrou van Oos-Londen is Dinsdag deur die polisie se honde-eenheid in die omgewing van dié Oos-Kaapse stad aangetref.

Kapt. Nkosikho Mzuku, woordvoerder van die polisie, het die vrou as Elsa Remant-Eyland geïdentifiseer.

Volgens Mzuku is Remant-Eyland Maandag deur haar vervreemde man as vermis by die polisie aangemeld. Sy is glo laas in haar bakkie by ʼn plaaslike lodge in Oos-Londen gesien.

Mzuku wou nie bekendmaak presies waar Remant-Eyland se liggaam gevind is nie. “Die polisie kan ongelukkig nie in die stadium meer inligting oor haar dood bekend maak nie. Dit is onduidelik of die nadoodse ondersoek al afgehandel is, maar dié uitslae sal baie lig werp op vrae wat die polisie tans oor haar verdwyning en moord het,” sê hy.

Intussen het Jana de Vos, ʼn familievriendin van Remant-Eyland, op Facebook gesê sy is gebroke oor haar dood. “My hart is vandag gebreek. Hy is gebreek vir Fernand, Aafke en Jelle en die res van die familie. Tannie Elsa, jy was soos ʼn tweede ma vir my. Jy het ons sedert ʼn jong ouderdom deur die donkerste tye ondersteun, lief gehad en vir ons omgegee met jou groot hart. Ek was mal daaroor om vir ure aaneen te sit en te gesels en koffie te drink,” het sy geskryf.

Mzuku sê hoewel die polisie hard besig is met hul ondersoek, is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Hy kon nie bevestig of Remant-Eyland wel die eienaar van Thornycroft Lodge is soos daar in die media berig word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.