Liggaam van vermiste sakeman gevind

Hendrik Gerryts se liggaam is Vrydagmiddag op Grotto-strand in Hermanus gevind. (Foto: Facebook / HGG-groep)

Die liggaam van ’n Kaapse sakeman is laat Vrydagmiddag op die strand van Grottobaai in Hermanus gevind.

Hendrik Gerryts, stigter en uitvoerende hoof van die HGG Finansiële Groep, het Donderdagoggend verdwyn nadat hy sy huis in Somerset-Wes verlaat het. Dit was die laaste keer wat sy gesin hom gesien het.

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, kon nie bevestig dat die liggaam wel dié van Gerryts is nie aangesien ’n formele uitkenning nog gedoen moet word. Kapt. Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisiestasie, het egter aan plaaslike media bevestig dat dit inderdaad Gerryts se liggaam is.

“Ons het geen rede om te glo dat vuilspel ’n faktor is nie. Ons laat ons egter deur die nadoodse ondersoek lei. ’n Voorlopige ondersoek sal bepaal in watter rigting ons ondersoek na die oorledene se dood sal beweeg,” het Twigg gesê.

Verskeie versoeke is op Facebook gerig om Gerryts op te spoor nadat sy Range Rover Sport Vrydag naby Grotto-strand gevind is. Luidens dié inskrywings is Gerryts se selfoon omstreeks 11:00 die vorige dag afgeskakel.

Volgens plaaslike berigte is die voertuig met behulp van ʼn opsporingstelsel gevind. Sy gesin het glo ook ʼn private helikopter ingespan om met die soektog na hom te help.

HGG het Maandag hul medelye op die maatskappy se webwerf betoon.

“Ons kondig met ontsettende hartseer die heengaan van HGG-stigter en uitvoerende hoof Hendrik Gerryts aan. Hendrik het Donderdag 3 Maart 2022 vermis geraak en sy lyk is die volgende dag in Hermanus gevind.

“Woorde kan nie beskryf hoeveel verdriet ons voel dat ons so ’n ongelooflike visioenêre sakeman, kollega en vriend verloor het nie. Die mense wat vir Hendrik goed geken het, sal hom onthou vir sy goeie sakeadvies, gulhartigheid, bereidwilligheid om ander te help en sy betrokkenheid by die plaaslike gemeenskap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

piet ·

Amper seker iemand van HGG het verlede week of die week tevore op RSG gepraat. Kan nie onthou of dit die oorledene was nie.

Frank ·

Groot, groot seder het geval. Wat ‘n wonderlike mens.
Seën vir sy familie asook HGI.

piet ·

Iets drasties moes gebeur het sodat die lewe nie meer die moeite werd geraak het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.