Liggaam van vrou in veld gevind

Die polisie in die oop veld waar die vrou se liggaam ontdek is (Foto: Verskaf)

Die polisie het Sondag afgekom op die liggaam van ʼn vrou in ʼn oop stuk veld naby die Kalkuil-nedersetting digby Odendaalsrus in die Vrystaat. Die liggaam is intussen geïdentifiseer as dié van die 41-jarige Nolisizwe Mdladlamde.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die polisie in Odendaalsrus is Sondag omstreeks 10:45 na die veld ontbied waar hulle Mdladlamde se liggaam aangetref het. Sy het op haar maag gelê met ʼn skietwond aan haar kop.

Albei Mdladlamde se selfone is op die toneel gevind.

“Uit die ondersoek blyk dit asof haar liggaam vir ʼn afstand van ongeveer 50 meter van die naaste pad die veld in gesleep is,” sê Makhele.

Patroondoppies van die 9 mm-vuurwapen waarmee sy vermoedelik geskiet is asook bloedspore is op die plek waar sy vermoedelik geskiet is gevind.

’n Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat Mdladlamde Saterdag omstreeks 21:00 die huis alleen verlaat het. Sy het vroeër die aand daar saam met haar kêrel en ’n vriend gekuier.

Makhele sê dit is in dié stadium nog nie duidelik wat presies gebeur het vandat sy die huis verlaat het totdat haar liggaam gevind is nie.

“Inwoners naby die misdaadtoneel beweer dat hulle die aand omstreeks 22:00 ʼn enkele skoot gehoor het.”

Die motief vir die moord is nie bekend nie en niemand is nog in verband met die moord aangekeer nie.

Makhele sê enigiemand met meer inligting wat tot die skuldige of skuldiges se inhegtenisneming kan lei, kan speurderkonst. Modise Kotsi by 078 531 0894 skakel of die polisie se misdaadnommer by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.