Liggaamsbouer in Kaapstad vermoor

Tyrel Ekermans. Foto: Facebook.

Tyrel Ekermans (36) ’n liggaamsbouer van die Oos-Rand, se familie is stukkend nadat hy vroeg Saterdagoggend in Table View in Kaapstad vermoor is.

Ekermans, die eienaar van TTT Nutrition in Boksburg, Sunward Park en Benoni en kampvegter vir Amerikaanse pit bull terriërs, het Vrydagmiddag omstreeks 15:00 nog op Facebook gesê dat hy mengeldrankies by Café Caprice in Kampsbaai geniet. Hy is glo slegs ure later doodgesteek.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie ondersoek ’n saak van moord.

“Die omstandighede rondom ’n steekvoorval wat Saterdagoggend omstreeks 01:00 in Arumweg in Bloubergrandt in Table View plaasgevind het, word ondersoek,” het Van Wyk gesê.

Biance Lee Juchau, Ekermans se suster, het Saterdag op Facebook gesê haar “broer en beste vriend” is van haar af weggeneem. “Ons het nog so baie gehad om te doen, soveel herinneringe om te maak, daar is soveel onbeantwoorde vrae!” het sy geskryf.

Tyrel Ekermans. Foto: Facebook.

Juchau het gesê niemand sal verstaan wat Ekermans vir haar beteken het nie.

“Ek sal enigiets doen om plekke met jou te ruil sodat jou seuntjie kan verstaan watter wonderlike pa jy was, die mees lojale vriend, die sagste hart…. Ek weet dat elke dag vorentoe nooit dieselfde sal wees nie, maar ek belowe jou ek sal altyd na jou pragtige seuntjie en Ciara [Ekermans se vrou] omsien. Geen leed sal ooit oor hulle pad kom nie.”

Juchau het gesê sy weet almal het gedink Ekermans is ʼn “gangster”, maar sy familie het die ware “Zoogy” geken.

Awhe Tattoo & Lifestyle Studio, een van Ekermans se borge, skryf op Instagram dat Ekermans altyd ʼn plek in hulle harte sal hê.

Ekermans word oorleef deur sy vrou, Ciara, en seuntjie, Jordan.

Niemand in nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

DA ·

Dis so so hartseer. My hart gaan uit na sy geliefdes, vrou en seuntjie wat nou sonder n pappa moet groot word. Rus sag by Jesus !

SA Moordmuseum ·

Hierdie tragedie wat in n museum uitgestal moet word kan die wereld se toeriste wys dat dit nie net kinders en bejaardes is wat wreed aangeval en vermoor word nie maar selfs sterk groot manne, almal loop deur.

ook'nvriend ·

Dis baie hartseer.Die outjie het ‘n hart van goud gehad.Mense oordeel maklik aan die uiterlike maar hy was die sprekende voorbeeld dat die uiterlike juis nie gebruik moet word om te oordeel nie.Rus in vrede ou grote.Jou liefde, geluld en omgee vir ander sal nie maklik vergeet word nie.Jy sal gemis word!Jy was ‘n true gentleman en ‘n hero!

Gesiggie ·

My hart gaan uit na hierdie man se Familie, ja nou gaan almal weer komentaar lewer.. hy het was seker betrokke by n bende…. maar sy familie ken hom beter, ons was nie daar so ons sal nie weet wat gebeur het… en nou moet hierdie seuntjie sonder sy Pappa groot word… deur mense wat net wil moor… sterkte aan die gesin mag God aan jul vrede en troos gee… mag hierdie moordenaars gevang word, want weereens is niemand nog in hegtenis geneem””ou storie…

LJ ·

@yankee, waar probeer Jane die ras kaart soek? Lyk my jy’s die een wat behep is met dit.

Anoniem ·

Het vandag daarvan gehoor ( bly in die area ) en dis maar vreemde omstandighede waaronder hy vermoor is, baie vrae. Die polisie het blykbaar nog nie eens begin navrae doen nie. Ons wonder almal wat die storie hier agter is, want daar is verseker ‘n storie, klink nie soos ‘n gewone roof of kaping wat skeef geloop het nie en nee, dink definitief nie dis ras gedrewe nie..

Tinkie ·

‘n Skollie het ‘n vrou se handsak gegryp en hy het haar te hulp gesnel en agter die skelm aangehardloop waarna hy twee keer met ‘n mes gesteek was.

Oom Kalahari ·

Dit is regtig hartseer en tragies. Alle simpatie met Bianca, Ciara en klein Jordan asook al die ander familie lede, vriende, sportmaats en kollegas. RIV Tyrel.

Marinda ·

Hoop hulle vang wie ookal dit gedoen het, maak nie saak van die omstandighede.

Sterkte aan sy familie en vriende.

Anoniem ·

Ek verstaan hy het ‘n handsak rower in ‘n nagklub gekonfronteer en is toe doodgesteek.

Koos ·

Regtig sinneloos om jou lewe op die spel te plaas vir ‘n blote handsak. Jammer, maar spiertiere van Gauteng ken nie die Kaapse bendekultuur nie. Tragies as die man dood is terwyl hy ‘n held probeer wees het. In Engeland verwys hulle na so iemand as ‘n “have a go hero”.

jammer oor dit ·

Mens kan baie gou vinger wys. Baie maklik om te se staan terug, maar as dit in jou natuur is om te beskerm, gaan dit moeilik wees. Sterkte aan die gesin!

JS ·

Nou deel julle twee so kennis oor die saak met almal, sit n link op.

Jeantre ·

So n humble mens gewees. Dis hartseer om dit te hoor. Jy gaan gemis word. Ek bid Jesus vou sy arms om jou familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.