Liggame gevind ná voorval by ArcelorMittal-aanleg

Die skade Woensdagoggend by ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) se aanleg in Vanderbijlpark (17 Februarie 2021) (Foto: Numsa/Facebook)

Die liggame van drie werkers is gevind ná Woensdagoggend se voorval by ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) se aanleg in Vanderbijlpark.

Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, het gesê familielede van die werkers het angstig gewag en gehoop dat hulle lewend gevind sou word. “Ons betuig ons innige meegevoel met die familie en vriende van die oorledenes.”

Amsa het in ʼn verklaring gesê ʼn deel van ʼn stapel van 90 m lank het ingetuimel en op ʼn  beheerkamer waarin die drie werknemers gewerk het, geval.

“Die veiligheid van ons werknemers en kontrakteurs bly ons hoofbekommernis. ʼn Volledige ondersoek sal volg om te verstaan wat presies gebeur het en om so iets in die toekoms te voorkom,” het Kobus Verster, hoof- uitvoerende beampte van Amsa, gesê.

Numsa het intussen ʼn beroep op die departement van arbeid en indiensneming gedoen om ʼn deeglike ondersoek na die voorval van stapel te stuur. Hlubi-Majola het Amsa daarvan beskuldig dat hy nie vinnig genoeg opgetree het om die werkers te red nie.

Solidariteit het vroeër gesê dit is die derde voorval van dié aard by Amsa se Vanderbijlpark-aanleg in die afgelope 12 maande. Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van metaal- en ingenieurswese by Solidariteit, het gesê dit bring die integriteit van die geboue en strukture by hierdie ou aanleg onder verdenking.

“Dit is duidelik nie veilig nie en daar moet ʼn behoorlike ondersoek van stapel gestuur word. Ons kan nie toelaat dat nóg voorvalle plaasvind en meer werknemers se lewe in gevaar gestel word nie.”

Volgens Solidariteit moet Amsa se bestuur ʼn behoorlike risiko-ontleding doen om die onderliggende oorsake wat tot hierdie voorvalle aanleiding gee, te bepaal. Solidariteit voer verder aan dat die integriteit van die infrastruktuur en geboue weens die ouderdom van die aanleg in twyfel getrek word en dat dit ʼn dreigende gevaar vir alle werknemers by die aanleg inhou.

“Amsa moet verantwoordelikheid aanvaar en sy ondersoek nie net beperk tot die oorsaak van ʼn enkele voorval nie, maar hy moet hom beywer om by die kern van al die soortgelyke voorvalle uit te kom en bereid wees om daarop in te gaan. Tragedies soos dié een moet tot elke prys voorkom word,” het Venter bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Thelsa

Verouderde geboue en toerusting wat ‘gemothball’ word, sal altyd uitdagings bied indien behoorlike inspeksie en instandhouding nie plaasvind nie.

Wielspore

Ek self het 15 jaar diens by Mittal (Yskor) waarvan 11 jaar in Vanderbijlpark was tot in 1996 toe ek van werkgewer verander het. Groot fabrieke is gevaarlik agv die hoeveelheid toerusting wat daar is en manier waarop die masjiene werk. Enige werknemer kan die regte opleiding ontvang om veilig te werk in hierdie omstandighede maar as die infrastruktuur begin meegee is die werknemer nie meer in beheer en die aanleg is te gevaarlik om daar te werk. Die werkgewer het die verantwoordelikheid om toe te sien dat masjiene en strukture behoorlik in stand gehou word en veilig is vir… Lees meer »