Liggame van twee vissermanne by Rooi Els gevind

(Argieffoto: NSRI)

Die liggame van twee mans is gevind nadat hulle vermoedelik van die rotse by Rooi Els, tussen Gordonsbaai en Kleinmond oos van Kaapstad, deur golwe van die rotse afgeslaan is.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het gesê die spanne van Kleinmond en Gordonsbaai is aanvanklik Saterdagmiddag ontplooi, ná berigte dat twee mans, vermoedelik van Macassar, vermis geraak het terwyl hulle visgevang het, het Ivan Bauser, adjunk-stasiebevelvoerder van die NSRI se Gordonsbaai-stasie, gesê.

Die seuns van een van die vermiste mans, asook ʼn verbyganger, het hulp ontbied. Slegs die vermiste mans se visgerei en persoonlike items is op die rotse gevind waar hulle visgevang het.

ʼn Reddingsboot is na die gebied gestuur en talle nooddienswerkers is ontplooi.

Die kusgebied en strand is vir enige teken van die twee mans gefynkam. Tydens die soektog is een van die mans net agter die breeklyn van die branders opgespoor en in die reddingsboot gelaai. Pogings om hom by te bring, was vergeefs.

NSRI-spanne van Kleinmond en Simonstad en nog verskeie ambulansdienste het intussen ook by die soektog aangesluit.

Die tweede man is ʼn ruk later ook in die branders opgemerk en in ʼn vaartuig gelaai. Paramedici het hom ook probeer bybring. Hy is egter ook op die toneel dood verklaar.

“Dit is nie bekend of die mans albei deur ʼn brander afgeslaan is nie, omdat geen ooggetuies nog na vore gekom het nie. Ons wil graag ons medelye met die betrokke gesinne betuig,” het Bauser gesê.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek na die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PJC ·

Die baie kruise vir hengelaars wat al in daardie omgewing verdrink het spreek vanself.

GL ·

Jammer vir die families. Die natuur het nie genade veral die see.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.