Ligloop vir dié vlieg se larwes

mangovlieg-lytteltonmanor-2019-04-01

Die mangovlieglarwes is vet goedjies, hulle word tussen 10 tot 12 mm lank en kan tussen 3 en 4 mm breed wees. Foto: Jean Jansen.

Inwoners van die Jakarandastad het hierdie jaar dalk meer as een rede om ʼn vroeë winter te verwelkom: Die koeler, droëer weer sal onder meer klaarspeel met die besmetting van mangovlieglarwes wat al meer mense en troeteldiere in die stad teister.

Vroeër die maand het talle inwoners van die Moot-omgewing hulle na Facebook-groepe en veeartse gewend om raad te vra oor hoe om die besmetting van hul troeteldiere te hanteer. Centurion het ook vroeër in Maart deurgeloop met drie voorvalle van dié besmetting wat in een naweek by die dierekliniek in Pierre van Ryneveld aangemeld is.

Maroela Media is ook bewus van voorvalle van die besmetting in Sinoville vroeër vanjaar, ʼn voorval in Lyttelton Manor, en inwoners en troeteldiere van so ver as Mahikeng in die Noordwes het ook al van naby met dié larwes kennis gemaak.

Ongelukkig is dit nie net troeteldiere wat deurloop nie aangesien die larwes hulle ook maklik in mense kan tuismaak.

Dit klink soos iets wat spesiaal vir ʼn gruwelfliek uitgedink is: Eers lê die sluwe vroulike vlieg haar eiertjies in jou klam wasgoed. Kort nadat die eiertjies uitgebroei het kruip die jong larwe onder ʼn mens of troeteldier se vel in en groei dan verder. Dit sal sowat 12 tot 15 dae later uitbars op ʼn plek wat soos ʼn puisie lyk en die lewensiklus van die vlieg is binne 26 dae voltooi.

“Ja, dit is grillerig, maar dit is darem nie lewensgevaarlik nie. Dit is net ongerieflik,” het dr. Sally Rackham, ʼn veearts van die Pierre van Ryneveld-dierekliniek in Centurion, gesê.

Rackham meen die voorkoms van die larwes was 20 jaar gelede ʼn probleem wat net in die Laeveld en meer subtropiese gebiede van die land voorgekom het. “Dit was nie iets wat sommer op die Hoëveld voorgekom het nie, maar ons sien deesdae al meer gereeld gevalle van die besmetting by troeteldiere. Ek het onlangs met ʼn kollega by ʼn dierekliniek in Fourways, Johannesburg, gesels en sy kry nou ook meer dikwels hiermee te make.”

Sy sê besmetting deur die mangovlieglarwes is afhanklik van die weer en kan beslis aan die warmer, nat klimaat in streke wat gewoonlik koeler was toegeskryf word.

“Die vlieg lê haar eiers in warm klam plekke soos grond wat met urine en ontlasting besmet is, in klam wasgoed en troeteldiere se beddegoed wat op ʼn klam, warm plek staan. Die larwes is vet goedjies, hulle word tussen 10 tot 12 mm lank en kan tussen 3 en 4 mm breed wees.

“Vlieglarwes skuil ook in ongestrykte klere en beddegoed en die larwe beland ook maklik op mense wat kaalvoet loop.

“Dit lyk aanvanklik soos ʼn groepie knoppies van tot 20 bymekaar wat sommer oornag op ʼn troeteldier se vel verskyn. Dit is beslis anders as ʼn allergiese reaksie wat oor die hele lyf van ʼn dier sal voorkom of ʼn kankeragtige vergroeisel wat stelselmatig oor tyd ontwikkel.

mangovlieg-lytteltonmanor-2019-04-02

ʼn Paar dae later lyk die knoppie soos ʼn ontsteekte pitsweer of swartkoppie – dit is natuurlik die gat waardeur die larwe asemhaal. Foto: Jean Jansen.

“ʼn Paar dae later lyk die knoppie soos ʼn ontsteekte pitsweer of swartkoppie – dit is natuurlik die gat waardeur die larwe asemhaal.”

Rackham sê die larwe kan uitgedruk word, maar ʼn eienaar sal moet wag totdat die larwe volwasse genoeg is.

“Besmettings kan voorkom word deur ʼn troeteldier met ʼn goeie gehalte teenparasitiese middel te behandel. Eienaars moet ook gereeld hul troeteldiere hanteer om die knoppies op te tel. Troeteldiere met ʼn erge infeksie sal gewoonlik ʼn kort kursus antibiotika ontvang om sekondêre bakteriële infeksies te voorkom.”

Die Noord-Kaapse departement van gesondheid het verlede jaar ook ʼn dringende waarskuwing oor die larwebesmetting uitgereik toe daar 12 gevalle in Februarie by staatshospitale en klinieke in die provinsie aangemeld is.

Lulu Mxekezo, woordvoerder van die departement, het gesê mense kan nie mekaar met die siekte besmet nie en dit kan behandel word deur petroleumjellie aan te smeer sodat die larwe nie kan asemhaal nie. Die larwe sal weens versmoring uitkruip en kan dan verwyder word, maar die wond moet daarna deeglik ontsmet word. Pasiënte wat sekondêre infeksies opdoen, word met antibiotika behandel.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes sê op sy webwerf die besmetting kan vermy word deur:

  • Klere en beddegoed te stryk.
  • Altyd skoene te dra.
  • Nie klere en beddegoed op die grond uit te gooi om droog te word nie.
  • Algemene verbetering van sanitasie en persoonlike higiëne.

Volgens Rackham sien ʼn mens meer van die besmetting van die vlieglarwes aan die einde van die somer in Maart en April en warmer, natter somers is gewoonlik die ergste. Dit is volgens haar ook moeilik om met die blote oog die mangovlieg, wat ook as die tumbu- of putzi-vlieg bekend is, van die gewone vlieg te onderskei.

Ouers wat vreemde knoppies op hulle kinders se velle opmerk moet eerder onmiddellik mediese hulp soek, veral as hulle wil bevestig of dit ʼn besmetting van mangovlieglarwes is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marius ·

Daar was nou ook ‘n voorval van ‘n dame se hond waar hulle 40 larwes uitgehaal het in Kempton Park Glen Marais die week.Die hond sal erg begin krap.

madels ·

Genade, gewoonlik is hierdie vliee net in die Laeveld areas en plekke soos Mosambiek, wow, hoe is dit moontlik dat dit nou ook hier is??

Casper Labuschagne ·

Dit is algemeen noord van die Limpopo. Enigiets wat buite hang om droog te word en wat met die menslike vel in aanraking sal kom, moet gestryk word. Klere, lakens, handoeke, kouse, onderklere, babadoeke, handdoeke en komberse. Dit is genoeg om met ‘n stoomstrykyster oor die item te gaan sodat die hitte van die stoom of strykyster die eiers dood.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.