Ligte by Aktekantoor af weens ‘wanbetaling’

(Argieffoto)

Die Aktekantoor in Pretoria, wat verantwoordelik is vir die registrasie, bestuur en instandhouding van die eiendomsregister van Suid-Afrika, is glo sedert Vrydag gesluit toe dié kantoor se kragtoevoer vermoedelik weens wanbetaling afgesny is.

Gerugte doen nou die ronde dat die Aktekantoor reeds vir ʼn geruime tyd versuim het om sy kragrekening by die Tshwane-stadsraad te betaal en dat  dit eindelik by hom opgevolg het.

Luidens ʼn kennisgewing wat die Registrateur van Pretoria aan eiendomsprokureurs gestuur het, het die stad die Merino-gebou waar die Aktekantoor geleë is, se kragtoevoer afgesny. Die Registrateur meld nie wanneer dit gedoen is nie, maar volgens prokureurs met wie Maroela Media gepraat het, duur die probleem reeds vanaf Vrydag voort.

“Gevolglik kan geen aktiwiteite tot verdere kennisgewing in die Aktekantoor geskied nie,” lui die kennisgewing.

Dit is nog nie duidelik wanneer die Aktekantoor weer heropen en die kragtoevoer daarna herstel sal word nie.

“Die ligte is af en die kantore is toe, niemand is daar om iets te doen nie,” het ʼn Pretoriase prokureur, wat nie sy naam wil noem nie, aan Maroela Media gesê.

Pretoriase prokureurs het vroeg Maandagoggend hiervan te hore gekom.

“[Die sluiting] het ʼn aansienlike uitwerking op diegene wat verbande moet registreer en eiendomme aan nuwe kopers oordra,” het Anton Theron, voorsitter van die eiendomskomitee by die Gautengse prokureursvereniging, aan Maroela Media gesê.

“Daar is ook baie mense wat staatgemaak het op die geld van transaksies wat vandag geskeduleer is om geregistreer te word, en nou kan niks voortgaan nie.”

Volgens Theron is daar nog niks aan hulle gemeld oor wanneer bedrywighede voortgesit gaan word nie.

“Weens die aard van dié soort werk kan werknemers nie registrasies vanaf die huis doen nie.”

Die Aktekantoor het deur die loop van die Covid-19-pandemie ʼn groot agterstand van registrasie ontwikkel, maar dít is intussen teruggewerk. Die jongste oponthoud kan egter volgens regskenners daartoe lei dat die werkslading weer daagliks verdubbel, wat talle mense sonder geregistreerde eiendomme of betaling vir verkoopte eiendomme sal laat.

“Dit is nou ʼn belangrike tyd, want duisende mense wil voor die einde van die jaar hul eiendomme registreer,” het die Pretoriase prokureur gesê. “Die effek van so ʼn opeenhoping kan erg uitkring.”

Theron sê Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, het intussen ook by die saak betrokke geraak om krag na dié kantoor so vinnig moontlik te laat herstel.

“Al wat ons nou kan doen, is wag en kyk wat gebeur,” sê Theron.

Maroela Media het navraag aan die Stad Tshwane gerig, maar wag nog op terugvoer in dié verband.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Magda ·

Wat n skande dat di regering van sa ni eers hulle staatsdiens kantore se ligte te betaal ni, SHAME ON YOU

Owlie ·

Well done! Dis hoogtyd dat diegene wat nie betaal nie ALMAL sonder krag sit – besigheid of privaat en die wat betaal moet krag hê

Di ·

Ja nee hulle betaal mos niks nie. Seker nie gedink die munisipaliteit sal die krag afsit nie. Het self by ‘n sekere Staatsdepartement gewerk waar die krag ook een maand afgesit was omdat die rekening nie betaal was nie. In dieselfde tydperk het die bank ook nog van die Staats voertuie kom konfiskeer weens onbetaalde rekeninge! WAT ‘n vernedering was dit nie.

Johann ·

Oooo eish the lektrix she is off so now I also ees off….ABSURDE VLAKKE VAN ABSOLUTE ONBEVOEGDHEID EN ONVERANDWOORDING!

Misky ·

Absoluut skokkend dat staatsinstansies nie sy eie rekeninge en bedryfskostes kan betaal nie. Of is dit onbevoegdheid en onopgeleide persone in finansiele poste?

VannieBaai ·

Dis nou maar hoe dit is. Ek voel baie jammer vir al die huisoordragte en verbande wat moet registreer voor Kersfees. Dit gaan nie gebeur nie.

Harley Davidson ·

Hoe belaglik is hierdie nie maar kan verwag word van ‘n piesang regering van ‘n piesang Republiek

Jakes ·

Die kultuur is mos om niks te betaal nie maar eerder om net te vat. Wat n skande en beklemtoon maar net weer die onbeholpe en onbevoegdheid van n mislukte regering en om alles te kroon vra die agbare president onophoudelik vir beleggings uit die buiteland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.