Ligte, kamera … Tuinroete reg vir rolprent-aksie

Danksy die uiteenlopende verskeidenheid agtergronde word die gebied as ʼn rolprentvervaardiger se droom bestempel. (Foto: Verskaf)

Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit is slaggereed om rolprentspanne in dié prentjiemooi omgewing te verwelkom nadat die konsepbeleidsraamwerk vir die Tuinroete eenparig aanvaar is.

Die gebied het al gasheer gespeel vir produksies van onder meer The Bachelor, The Bachelorette, Black Sails, Temptation Island, Love Island, asook Duitse en Britse dokumentêre reekse. Plaaslike produksies soos Ultimate Braaimaster, Toorbos en Fiela se kind spog ook met tonele wat in dié geweste verfilm is.

Die Tuinroete bied ʼn unieke omgewing met woude, halfwoestyngebiede, bergpasse, paaie, brûe, uitgestrekte strande, strandmere, berge en fynbos. Danksy die uiteenlopende verskeidenheid agtergronde word dit as ʼn vervaardiger se droom bestempel.

Die koste verbonde aan ʼn Amerikaanse werklikheidsreeks kan tot R2 miljoen per episode beloop. Elke episode word oor drie dae verfilm en sluit nie voor- en naproduksie in nie.

Patrick Walton, voorsitter van die Tuinroete-rolprentkommissie, sê die beleidsraamwerk gaan eindelose moontlikhede help ontsluit.

“Ons hoop dat die beleid, saam met die sentrale aanlynpermit- en liggingstelsel wat ons opgebou het, die omkeertyd vir permitte gaan verminder. Dit is ʼn reusestap om rolprentmakers na die Tuinroete te lok,” sê hy.

Die Tuinroete-rolprentkommissie word bestempel as ʼn eenstop-toegangspunt vir plaaslike en internasionale produksiehuise wat die gebied besoek. Dienste sluit in die uitreik van permitte, hulp met plekbepalings, spanlede, vervoer, verblyf en spyseniering in ʼn poging om rolprentvervaardigers aan te moedig om hul begrotings plaaslik te bestee.

“Ons bring ook kundigheid na jongmense deur opleidingsprogramme in media en film aan te bied sodat ons plaaslike jongmense en ontluikende rolprentmakers aan opkomende produksies kan deelneem,” sê Walton.

Memory Booysen, burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, sê die beleidsraamwerk is die hoeksteen vir ʼn gekoördineerde rolprentbedryf, asook die byhou van akkurate syfers van rolprentbedrywighede in die omgewing.

“Die raamwerk gaan van dié gebied ʼn streek maak wat gereed is vir rolprente, werkskepping bevorder en uiteindelik ʼn omgewing vir ontluikende kunstenaars en bedrewe verskaffers skep om sake hier te doen,” sê Booysen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Die Tuinroete is inderdaad prentjie mooi. Hoelank voordat boewe weereens dit gevaarlik gaan maak vir rolprentvervaardigers om daar te werk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.