Ligte meer aan as af dié naweek

(Foto: Shutterstock)

Eskom beplan om beurtkrag waar moontlik die naweek op te skort en slegs fase 1 en 2 met tye in te stel. Dié lae fases van beurtkrag het maande laas gegeld.

Die kragvoorsiener sê fase 1 sal Saterdag vanaf 05:00 tot 16:00 geld voordat dit tot fase 2 verhoog sal word. Fase 2 geld dan tot Sondag 05:00 wanneer dit tot 16:00 heeltemal opgeskort sal word.

Fase 1 geld vanaf Sondag 16:00 tot Maandag 16:00 voordat dit tot fase 2 verhoog sal word.

Fase 2 sal in dié stadium tot Dinsdag 05:00 geld.

Eskom sê beurtkrag sal dan weer tot Dinsdagmiddag opgeskort word wanneer fase 2 om 16:00 sal inskop en tot verdere kennisgewing ingestel sal word.

Eskom skryf die welkome (en onverwagse) verligting deels toe aan opwekkingseenhede wat die afgelope 48 uur herstel is. Die laer as verwagte vraag na elektrisiteit oor die naweek stel die kragvoorsiener in staat om fases te verminder en op te skort waar moontlik.

Altesaam 4 765 MW is tans nie beskikbaar nie weens beplande instandhouding, terwyl 14 256 MW weens onbeplande onderbrekings nie beskikbaar is nie.

Nog meer goeie nuus

Dit is die derde sarsie goeie nuus vanaf die sukkelende Eskom oor die afgelope paar dae.

Maroela Media het vroeër vandag berig die graderingsagentskap S&P Global het die kragverskaffer se kredietmonitering op positief geplaas.

Eskom het intussen ook aangekondig dat ses van sy steenkoolaangedrewe kragstasies nou op 70% van hul kapasiteit bedryf word. Eskom sê daar is die afgelope tyd ʼn merkwaardige verbetering in sy opwekkingsvermoë danksy die ses kragstasies wat nou meer kapasiteit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.