Ligte vliegtuig ploeg in veld by Germiston

Die ligte vliegtuig het in ‘n veld neergestort. (Foto: Verskaf)

Vier mense is Maandag lig beseer toe ʼn ligte vliegtuig in ʼn veld tussen Leondale en Wadeville in Germiston neergestort het.

Volgens Eric Maloka, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddiens, is paramedici en die brandweer net ná 11:00 na die toneel in Johannesburg ontbied.

“Toe nooddienste by die toneel aangekom het, was die insittendes reeds op pad na ʼn plaaslike hospitaal vir verdere behandeling.”

Geen sterftes is aangeteken nie, maar een van die insittendes het matige beserings opgedoen.

Die Burgerlugvaartowerheid was op die toneel en ondersoek die ongeluk verder. Dié owerheid het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat ‘n Cessna 182 Skylane met die registrasie ZS-MZV in die ongeluk betrokke was.

“Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie, maar ‘n voorlopige verslag sal binne 30 dae aan die publiek beskikbaar gestel word.”

Maroela Media het vroeër berig dat die getal vliegongelukke die afgelope tyd afgeneem het, al het verskeie vliegongelukke die afgelope paar maande kommer gewek by lede van die vlieggemeenskap.

ʼn Vergelyking van vorige jare se syfers wys ook dat dié soort ongelukke aan’t afneem is. Nietemin is 32 mense die afgelope drie jaar in kommersiële vliegongelukke dood. Dit sluit vlieëniers en leerdervlieëniers in.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piper ·

n vliugtuig stort nie net neer nie. hy het tien teen een n probleem gehad wat n noodlanding tot gevolg gehad het. as hy neergestort het was almal dood.

tweeling ·

Ek stem, maar die titel is ook bietjie verwarrend. Eerstens ploeg die vliegtuig in die veld volgens die opskrif en dat stort dit neer – weet nie watter beskrywing is die beste nie.

Belinda ·

ja lanklaas gelees van vliegtuig ongelukke, veral die naby Rand Airport, destyds was dit n gereelde ding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.