ʼn Woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van gesondheid het gesê twee volwassenes is in ’n kritieke toestand terwyl drie kinders minder ernstige beserings opgedoen het. Die beseerdes is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir mediese behandeling.
Colin Naidoo, woordvoerder van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), het gesê die ligte vliegtuig het omstreeks 10:45 neergestort. “Ons span het saam met nooddienspersoneel gewerk om die mense uit die wrak te bevry en seker te maak hulle ontvang behandeling.”
Volgens Naidoo is die hoofaanloopbaan tydelik gesluit sodat die wrak verwyder kan word. Hy het gesê die ander aanloopbaan is steeds in gebruik.
Die Burgerlugvaartowerheid ondersoek die oorsaak van die ongeluk.