‘Likwideer SAL nóú’

(Foto: Facebook)

Die DA het ʼn beroep op die sakereddingspraktisyns van die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gedoen om dadelik aansoek te doen vir die likwidasie van die redery.

Die oproep kom nadat die kabinet Donderdag gesê het die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, is gevra om ʼn bygewerkte verslag oor die SAL in te dien vir sy vergadering Maandag.

“Die kabinet sal daarna die land se ekonomiese herstelplan finaliseer,” het die verklaring gelui.

Volgens ingeligte bronne is dit onduidelik of dit beteken daar is ʼn skakel tussen die lot van die SAL en die afhandeling van die plan, en of die bewoording van die verklaring bloot lomp was.

DA-LP Alf Lees voer aan dit is nou duideliker as ooit dat daar ʼn gesamentlike denkrigting in die kabinet is oor of die redery, wat al jare lank teen ʼn verlies bedryf word en laat verlede in sakeredding geplaas is, se vlerke eens en vir altyd geknip moet word.

“Dit is duidelik dat daar groot beleidsteenstrydighede oor die toekoms van die SAL en SA Express (SAX) is,” het Lees gesê.

“Dit was weereens duidelik in die kabinet se onvermoë om ʼn besluit te neem oor die onvermydelike sluiting van die rederye, ten spyte van Gordhan se verwerping van die jongste versoek vir ʼn reddingsboei vir die SAL.

“Die DA doen ʼn beroep op die SAL se sakereddingspraktisyns om voort te gaan en aansoek te doen vir die onmiddellike likwidasie van die SAL.”

Volgens Lees het die nagenoeg R50 miljard wat die regering sedert 2009 aan die SAL uitgedeel het, ʼn reuseverlies vir belastingbetalers beteken, omdat die geld vir noodsaaklike dienste in ʼn mislukkende onderneming gestort is.

Hy het gesê die ekonomiese uitwerking van die Covid-19-pandemie maak dit belangriker as ooit om die land se verliese – waarvoor die redery verantwoordelik is – te staak.

“Terwyl die Covid-19-afsonderingstydperk aanhou om ekonomiese verwoesting te saai, kon die geld wat op die SAL en SAX bestee is nuttig gewees het om die regering te help om die ekonomiese skok te absorbeer. Soos dinge nou lyk, is die regering bankrot en is daar geen fiskale ruimte om ʼn breër ekonomiese reddingspoging in werking te stel nie,” het Lees gesê.

“Die likwidasie van die SAL en SAX moet voortgaan op ʼn manier wat die minste skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie en die onskuldige werkers berokken.  Die meeste van hulle was na alle waarskynlikheid glad nie betrokke in die enorme wanbedryf van die twee rederye nie.”

Gordhan het verlede Vrydag ʼn versoek van die SAL se sakereddingspraktisyns – vir verdere staatshulp van R10 miljard – verwerp.  In ʼn brief aan die regering sê hy die regering kan nie enige verdere finansiering verskaf nie en kan ook nie enige waarborge uitreik om die redery te help om finansiering te bekom nie.

Die SAL het vantevore aangedui dat hy sy buitelandse kredietlimiet wil verhoog.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het al telkens sy onwilligheid te kenne gegee om nog finansiering aan die SAL te verskaf en het in 2018 al gesê as dit van hom afgehang het, die SAL sy deure sou sluit.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het die afgelope week gesê hy verwag dat die ekonomie met 6,1% gaan inkrimp terwyl Suid-Afrika die stryd teen Covid-19 voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Burgermeester ·

Ek vermoed wanneer daai dag wel aanbreek wanneer SAL gelikwideer gaam word, gaan daar ‘n paar mense met staats waarborge in hul hand voor die deur kom staan om hulle pond vleis terug te eis. Ek kan verkeerd wees, maar hulle gaan baie terleurgesteld wees, want ek dink nie daar is genoeg geld in die staatskoffers om daai staatswaarborge te eer nie. Dit kan dalk wees hoekom die regering huiwerig is om voort te gaan met die likwidasie van SAL?

Burgermeester ·

Ek is verbaas enige iemand wil ons nog help. As ek ‘n buitelandse belegger was sou ek nie ‘n sent in die land bele het nie.

johan ·

Die likwidasie moes al gebeur het voordat daar die eerste Miljard rand gegee was.

Hennie ·

Hoe voer ‘n mens ‘n dooie perd? Daar is geen ander uitweg nie….begrawe die SAL! Ons as belastingbetalers wil nie langer gevangene gehou word in hierdie staat van belaglike welsyn nie. Dit moét nou stop!!! Ons kan nie meer net staan en toekyk hoe ons belastinggeld in ‘n lankal disfunksionele staatsentiteit gestort word nie! Maak toe en red die hele land en sy mense in plaas daarvan om van die hele bevolking te vereis om die SAL sirkus finansieël te onderhou . Ons sal dit natuurlik oorweeg dat ons belastinggeld weer daar ingepomp word maar dan wil ons as beleggers dieselfde voordele as die kabinet en sy ministers hê as rente opbrengs op ons belegging nl gratis vlugte tesame met ons gesinne en sommer vriende ook twee maal per jaar na die buiteland asook ses binnelandse binnelandse vlugte en natuurlik ook al die uitspattige kos en drank tydens die vlugte. We will not settle for anything less!!! Rente en ‘n lening is onskeidbaar getroud en niks kan dit skei nie!

Cherokee ·

Hennie, jy is die eerste een wat my oortuig dat ons ‘n ander opsie ook kan oorweeg. Die tweede deel van jou skrywe het my tot die insig gebring dat daar ànder oorweging(s) ook is. Die absoluut enigste voorwaarde waaronder ons dit gelate sal aanvaar. Dankie vir jou voorstel. As dit nie was vir die Engelse sinnetjie wat jy as onontbeerlik beskou het, sou ek jou ‘n duim-op geskenk het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.