Lily-myn: AfroCan toe nie ridder op ʼn wit perd

Foto: http://www.vantagegoldfields.com/

Foto: http://www.vantagegoldfields.com/

AfroCan Resources Gold het die sperdatum gemis om teen 30 Junie $2,5 miljoen aan Vantage Goldfields, die eienaar van die Lily-myn, oor te betaal.

Dit volg nadat AfroCan in ’n onlangse ooreenkoms sou voortgaan om $11 miljoen in die Lily-myn te belê, in ruil vir aandele in die maatskappy en sitting in hul raad.

“Die hersiene ooreenkoms wat behels dat AfroCan teen gister $2,5 miljoen uit hul Kanadese bankrekening sou oorbetaal is bereik nadat AfroCan onsuksesvol was om die eerste $1 miljoen vanuit hul Mauritius-bankrekening oor te betaal weens regulatoriese probleme aan AfroCan se kant,” het Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, gesê.

Volgens Du Plessis sal die Lily-myn se besigheidsreddingspraktisyn (BRP), Rob Devereux, AfroCan moontlik tot Maandag grasie gee om die oorbetaling te doen. “Indien die betaling steeds nie geskied nie, sal voortgegaan word om regstappe teen AfroCan te neem vir kontrakbreuk met die transaksie wat heel waarskynlik tot niet sal gaan,” het hy verduidelik.

Du Plessis het gesê die aanhoudende uitsprake van die minister van minerale hulpbronne, Mosebenzi Zwane, dat die skeepsvraghouer eers gevind moet word voordat die myn in produksie kan gaan, het reeds een belegger laat onttrek. Dit is dalk ook die rede hoekom AfroCan koue voete gekry het.

“Dit gaan R138 miljoen kos om die vraghouer te vind as ʼn skag oor ʼn agt maande tydperk vir dié doel gesink word. Geen belegger is bereid om die koste te dra nie omdat daar geen inkomstestroom is om die lening terug te betaal nie,” het hy bygevoeg. “Minister Zwane se uitsprake is uiters ondeurdag as ingedagte gehou word dat die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) by hul voorwaarde vir sekondêre befondsing van nagenoeg R100 miljoen sal hou indien ʼn primêre belegger vir Lily-myn gevind kan word.”

Volgens Du Plessis het die nagenoeg 900 werknemers van Lily-myn sedert die einde van Maart 2016 steeds geen betaling ontvang nie en vandeesweek se verwagte oorbetaling vanaf AfroCan sou onder meer vir die betaling van April-salarisse aangewend word. “ʼn Verdere gedeelte van die geld sou aangewend word om die proses te begin om ʼn skuinsskag te begin sink om toegang tot die skeepsvraghouer te verkry om die drie vermiste werkers se liggame te probeer vind en om in die proses te poog om die myn weer in produksie te kry,” het hy bygevoeg.

“Volgens die ooreenkoms moet AfroCan teen die einde van Julie 2016 ʼn tweede oorbetaling doen wat die BRP in staat sal stel om die werkers se salarisse vir Mei en Junie te betaal en om ’n deel van die afleggingpakkette van die net meer as 50 werkers wat reeds afgelê is, te betaal.”

Du Plessis meen dat as die AfroCan-ooreenkoms moontlik deur die mat sou val, dit sal meebring dat die Lily-mynwerkers in groot finansiële verknorsing en armoede gedompel sal wees weens drie maande se salarisse wat nie betaal is nie. “Die gevolg is dat Lily-myn nog werkers sal moet aflê, terwyl die res van die werkers sal moet voortgaan om by die maatskappy se naburige Barbrook-myn produksie te lewer, sonder die vooruitsig van betaling. ʼn Belofte is egter aan die oorspronklike groep Barbrook-werkers gemaak dat hul uitstaande salarisse moontlik teen 11 Julie uit die opbrengs van goudproduksie uit die marginale myn betaal sal word.”

Volgens Du Plessis sal ʼn ander belegger dringend gevind moet word sodat die myn likwidasie kan vryspring, maar intussen sal dit groot verligting bring indien Eskom beter betalingsvoorwaardes aan die maatskappy toestaan. Eskom is tans ongenaakbaar wat die betaling van die myn se kragrekening betref. “In die lig van die myn se desperate finansiële situasie en die lot van die 900 werknemers, en in die lig van Eskom se geduldige hantering van wanbetalings deur vele munisipaliteite, moet Eskom sy ongenaakbare houding versag en die myn meer tyd gee om sy agterstallige rekening te betaal,” het Du Plessis verduidelik.

“Solidariteit doen ʼn beroep op die regering en in die besonder minister Zwane om dringend die myn en sy 900 werknemers by te staan deur oorbruggingsbefondsing te bekom vir die uitstaande salarisbetalings. Voorts moet potensiële beleggers gerusgestel word dat produksie ook kan plaasvind terwyl die skeepsvraghouer gesoek word. Laastens moet Eskom oorreed word om in belang van 900 werkers en hul afhanklikes ʼn meer gunstige terugbetalingsooreenkoms met die myn aan te gaan. As die myn gelikwideer word, sal al die betrokkenes alles verloor omdat die myn nie enige substantiewe bates het om te verkoop nie,” het Du Plessis gemaan.

Intussen bied Solidariteit Helpende Hand deurgaans voedselhulp aan lede en aan Lily-mynwerknemers om hulle by te staan in hierdie tyd van ontbering.

Lees alle vorige berigte oor Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik Havenga ·

Politiek moet in sulke gevalle uit besluitneming gehou word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.