Lily-myn: Cosatu beplan optog; 900 werkers steeds sonder salaris

Foto: http://www.vantagegoldfields.com/

Foto: http://www.vantagegoldfields.com/

Die vakbond Solidariteit het Vrydag gesê die minister van minerale hulpbronne moet aan die 900 uitgelewerde werkers van die Lily-myn verduidelik hoekom hul lot nie as prioriteit gesien word nie.

Dit volg nadat minister Mosebenzi Zwane aangekondig het dat die drie vermiste werkers, wat moontlik steeds ondergronds in die skeepsvraghouer vasgekeer is, eers gevind moet word voordat fondse daaraan bestee word om die myn weer operasioneel te kry.

“Die minister se uitsprake het tot gevolg dat potensiële befondsers onttrek omdat hulle afhanklik is daarvan dat produksie weer ’n aanvang neem,” het Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit gesê. “Die onttrekking van potensiële befondsers het tot gevolg dat die 900 werkers by die Lily-myn sedert April nog steeds geen salarisbetaling ontvang het nie en hul heenkome is onseker.”

Solidariteit versoek die departement van minerale hulpbronne en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) om dadelik fondse te bewillig om hierdie werkers by te staan, omdat die minister ’n aandeel daaraan het dat fondse nou onttrek word, het Du Plessis gesê.

Volgens hom is die $11 miljoen wat bekom is deur die investering van die Kanadese maatskappy AfroCan nog nie inbetaal nie, omdat die fondse weens regulatoriese struikelblokke in Mauritius vashaak.

“Ons doen ’n beroep op minister Zwane om hierdie 900 werkers, wat nou aan hul eie lot uitgelewer is, ook as ’n prioriteit te sien,” het Du Plessis gesê.

Intussen het die vakbondfederasie Cosatu aangedui dat hy Sondag ʼn optog na die Lily-myn in Barberton, Mpumalanga, beplan om druk op die bestuur te plaas om die drie vermiste werkers te vind en dit na die oppervlak te bring.

Sizwe Pamla, woordvoerder van Cosatu, het gesê die vakbondfederasie versoek die regering ook om ondersoek in te stel oor die tragedie. “Ons voel dit is die roekelose optrede deur die bestuur van die myn wat versuim het om aan die veiligheidstandaarde te voldoen wat tot die ongeluk gelei het.

“Volgens die Departement van Siviele Ingenieurswese aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) word mynsinkgate hoofsaaklik deur mense veroorsaak, en daarom is dit waarskynlik dat dit menslike gedrag was wat tot die ongeluk gelei het,” het Pamla gesê.

KSUT se ondersoek het gewys dat mynsinkgate moontlik plaasvind wanneer vibrasies van boorbedrywighede “beweging in die grond” veroorsaak.

“Wanneer tonnels te naby aan mekaar ondergrond geskep word, word die ondersteunende struktuur van die omliggende grond verswak en dit lei tot grondstortings. Foutiewe tonnelstelsels, gebreekte water- of dreineringspype en groot hoeveelhede water kan ook tot gronderosie en sinkgate lei,” het Pamla verduidelik. “Ons wil hê die kommissie moet ondersoek instel na van hierdie faktore sodat ons almal kan weet wie verantwoordelik was vir die tragedie en sodat ons langtermynoplossings kan vind – nie net vir Lily-myn nie, maar vir die mynbedryf in sy geheel.”

Drie werkers is in Februarie ondergrond vasgekeer toe die skeepsvraghouer, waarin hulle gewerk het, in ʼn sinkgat geval het toe ʼn kroonpilaar meegegee het. Die liggame van Pretty Nkambule, Solomon Nyerende en Yvonne Mnisi is nog nie uitgehaal nie.

Leiers van Cosatu en die National Union of Mineworkers sal die optog lei.

Lees alle vorige berigte van Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Die Lily-myn is in totaliteit ‘n skandalige spulletjie. Dit was ‘n ongeluk wat ‘n plek gesoek het om te gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.