Lily-myn doen aansoek vir sakeredding

'n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

‘n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Die Lily-myn naby Barberton in Mpumalanga het Woensdag aangekondig dat hy om sakeredding aansoek gedoen het.

Mike McChesney, uitvoerende hoof van Vantage Goldfields, het in ʼn verklaring bevestig dat die besluit spruit uit die feit dat die myn sedert die ineenstorting van die myningang op 5 Februarie gesluit is en dus geen inkomste genereer nie. “Ten spyte van ingrypende pogings om die nodige geld te genereer om Mimco, die maatskappy wat Lily-myn besit, te laat herlewe, het hierdie oefening ook sy beperkinge en word meer tyd benodig,” het McChesney gesê.

“Die besluit [om vir sakeredding aansoek te doen] is nie weens wanbestuur of marktoestande nie. Die stap was nodig weens ʼn hoogs onvoorspelbare en tragiese gebeurtenis. Die sakereddingsproses sal die maatskappy die tyd en beskerming gee om die nodige geld te genereer om bedrywighede te kan hervat,” het hy gesê.

Volgens McChesney sal die proses die myn help om werkverliese te vermy, toegang tot kapitaal te verkry en die maatskappy só te struktureer dat normale bedrywighede kan voortgaan. Hy het gesê die Lily-myn het nog aansienlike ertsreserwes vir ʼn hele aantal jaar en ʼn robuuste bedryfsmarge teen die huidige goudpryse.

Die vakbond Solidariteit het intussen gesê dat Lily-myn se aansoek om sakeredding die enigste uitweg vir die myn en sy werknemers is. Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het Donderdag gesê hoewel ʼn aansoek om sakeredding dikwels net ʼn voorloper vir ʼn likwidasieproses is, hou dit tog verskeie voordele vir die maatskappy en sy werknemers in.

“Boonop beskerm sakeredding die maatskappy teen krediteure en kan dit help verseker dat werknemers se diensvoorwaardes onveranderd bly, tensy dit met die betrokke vakbonde heronderhandel word,” het Du Plessis gesê.

Volgens Du Plessis is ʼn verdere voordeel van die aansoek om sakeredding dat alle vakbonde nou onmiddellik as ʼn betrokke party in die proses geag sal word. “Dus bied dit ook nou aan Solidariteit direkte toegang tot ons lede – ʼn reg wat die maatskappy ons lede tot op hede ontneem het.”

Du Plessis het gesê Solidariteit se hoofprioriteit is nou om sy lede se werk te beskerm. “Ons sal daarom ook die beginsels ingevolge die departement van arbeid se aflegging-opleiding-skema as ʼn moontlikheid aan die sakepraktisyn voorhou om werksgeleenthede te beskerm. Daarvolgens sal werknemers met oordraagbare vaardighede ook bemagtig word totdat die myn hopelik weer in volle produksie is.”

Du Plessis het nietemin die bestuur van die myn gekritiseer omdat die vakbond nie vooraf oor die aansoek om sakeredding ingelig is nie. “Die mynbestuur het vroeër onderneem dat geen proses wat werkers se werksekuriteit raak, geïnisieer sal word voordat Solidariteit nie eers in kennis gestel is nie. Die bestuur het glo reeds op 4 April om sakeredding aansoek gedoen, sonder om Solidariteit daarvan in te lig,” het hy gesê.

Ingevolge die sakereddingsproses word die magte van die direkteure en bestuur van die maatskappy nou ingeperk en vir tyd en wyl sal die sakereddingpraktisyn verantwoordelikheid vir die bestuur van die maatskappy neem.

Oorsaak van mynramp

Solidariteit het verlede week gesê hy sal hoogs vertroulike inligting onthul oor die oorsaak van die ineenstorting by die Lily-myn wat glo verklarings van mynwerkers en ander sleutelrolspelers, wat hy op ʼn betroubare wyse bekom het, insluit. Die vakbond het egter later besluit om dié inligting voorlopig nié te onthul nie om te verhoed dat die myn sy deure moet sluit en honderde werkers sodoende hul werk kwyt is.

Du Plessis het Donderdag gesê die vakbond sal verder met die departement van minerale hulpbronne skakel om die verhoorondersoek ingevolge die rede vir die mynongeluk te vervroeg sodat die vakbond die inligting rakende die oorsaak van die insinking van die myn so gou moontlik kan bekendmaak.

“Tans word talle werknemers geviktimiseer, daarvan beskuldig dat hulle moontlik die fluitjieblasers is, en gedreig,” het hy gesê. “Fluitjieblasers word deur wetgewing beskerm en die maatskappy moet sy heksejag en viktimisering onmiddellik staak, anders sal Solidariteit genoodsaak wees om die nodige regstappe teen individue in die maatskappy te doen.”

Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.