Lily-myn hoop steeds om werkers se oorskot te vind

Die Lily-myn. Foto: Verskaf.

Die Lily-myn het die Onafhanklike Ontwikkelingskorporasie (IDC) genader vir ʼn lening as deel van sy pogings om genoeg geld bymekaar te skraap om sy reddingspogings te hervat om die oorskot van die werkers wat sedert Februarie 2016 ondergronds by die myn in Barberton in Mpumalanga vasgekeer is na die oppervlak te bring.

Die werkers is dood nadat ʼn skeepshouer wat as ʼn lampkamer gebruik is in ʼn reusesinkgat geval het.

Rob Devereux, die sakereddingspraktisyn by Lily-myn, het aan African News Agency (ANA) gesê die maatskappy benodig R300 miljoen om die reddingsoperasie te hervat. Hy het gesê die operasie sal teen die einde van die maand hervat word indien die maatskappy die nodige geld in die hande kan kry. Die versoek aan die IDC is deel hiervan.

“Die IDC het ingestem om hierdie reddingsproses te ondersteun,” het Devereux gesê. “Die IDC kan nie net vir ons die geld gee nie. Daar is prosesse wat gevolg moet word. Ons het al die nodige inligting aan die IDC gestuur. Hulle het toetse gedoen en die aansoek sal op 9 Januarie na hul kredietkomitee gaan. Ek sal nooit mense toelaat om nou ondergronds te gaan nie, want dit is onveilig. Ons sal die oorskot na die oppervlak bring en die myn sal daarna sy bedrywighede hervat.”

Die drie werkers, Yvonne Mnisi, Pretty Nkambule en Solomon Nyerende, is ondergronds vasgekeer nadat die skeepshouer waarin hulle gewerk het in die sinkgat verdwyn het toe ʼn kroonpilaar ingegee het. ʼn Reddingsoperasie is dieselfde maand van stapel gestuur in ʼn poging om die liggame van die drie werkers op te spoor, maar dit is later gestaak nadat die myn onveilig verklaar is.

Lily-myn, wat deur Goldfields besit word, het sedertdien vir sakeredding aansoek gedoen. ʼn Hele aantal Lily-myn werkers het ook intussen vrywillige skeidingspakkette aanvaar en is weg by die maatskappy.

Devereux het in Junie verlede jaar aan ANA gesê Lily-myn het befondsing van 20 miljoen Kanadese dollar (ongeveer R196 miljoen) van Galane Gold, ʼn Kanadese mynmaatskappy, gekry. Hy het destyds gesê die reddingsoperasie sal in September 2017 hervat word.

Devereux het Donderdag gesê die reddingsoperasie kon toe nié in September hervat word nie omdat Galane Gold nie by die sakereddingsplan gehou het nie.

Die IDC kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos1 ·

Sonder om onsensetief te wees, maar dit beteken dat die belasting betaler dit gaan betaal.
Ek hoop die myn gaan die geld terug betaal. Waar is hulle versekering?

HPV ·

Met respek teenoor die afgestorwenes en hul families. Die R300m wat nou geleen word is geen waarborg dat hulle gevind word nie. Kan daar nie maar ‘n tipe monument ter nagedagtenis vir hulle opgerig word en en geldelike steun vir byvoorbeeld studie vir hul kinders en selfs kleinkinders gemaak word nie? ‘N graf is ‘graf, ten minste weet hul families waar hul laaste rusplek is.

Peet ·

HPV, jy is in die kol. Maak eerder voorsiening vir die afhanklikes.
Duidelik is daar mense wat nie mooi verstaan hoe werk ondergrondse omstandighede en gevare. Moenie nog lewens in gevaar stel. Ja, ek het mynbouondervinding.

PJ ·

Stem 100% saam.
Gebruik die geld vir die 3 oorledenes de families.
Gooi die gat behoorlik toe en rig iets mooi op ter nagedagtenis aan hulle. Dis baie wreed en hartseer gewees wat gebeur het..maar dit is wat dit is. Tyd om aan te beweeg…

Chris Ws ·

Die deel van die myn waar die sinkgat is moet behoorlik afgeseel word – niet ondergrond nie maar bo-grond ook.Dis sinneloos om nog lewens te waag om die 3 se oorskot te probeer vind.Ek se ook daar moet voorsiening gemaak word vir die afhanklikes.Niks kan die’ 3 weer terug bring nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.