Lily-myn: Nuwe reddingsmetodes oorweeg

'n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

‘n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Die departement van minerale hulpbronne het Sondag gesê alternatiewe metodes word nou oorweeg om by die skeepshouer uit te kom wat steeds onder puin en grond vasgekeer is, ʼn maand nadat die ingang van die Lily-myn in Barberton, Mpumalanga, ineengestort het.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, het Sondag weer die myn besoek om die nuutste inligting oor die reddingspoging van die mynbestuur en ʼn span inspekteurs van die departement te kry. “Die span oorweeg nou ander alternatiewe om die skeepshouer te bereik,” het Zwane gesê.

Volgens Zwane is besluit die situasie ondergrond is te gevaarlik vir reddingsaksies om voort te gaan. “Nadat die tweede opening geboor is, het ʼn klein span ondergronds gegaan en gevind rotse val steeds en die grond is nie stabiel genoeg om die reddingspanne in te stuur nie,” het hy gesê.

“Hoewel dit teleurstellend is dat hierdie opsie nie gewerk het nie, sal die regering saam met die myn en ander kenners werk om ander alternatiewe te oorweeg om die skeepshouer uit te haal.”

Die minister sal in die komende week ʼn verslag ontvang wat deur kenners saamgestel word om op die pad vorentoe te besluit.

Yvonne Mnisi, Pretty Mabuza en Solomon Nyarenda was in die skeepshouer toe ʼn gedeelte van die Lily-myn op 5 Februarie ineengestort het. Reddingspanne probeer sedertdien by die skeepshouer uitkom, maar was tot dusver onsuksesvol.

Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hennie de Beer ·

Dit is tragies maar ek dink dat die tyd uitgeloop het vir `n reddingspoging – veiligheid van die protospanne is nou eerste prioriteit al neem dit hoe lank.

Asjas ·

Ek stem saam dat die tyd vir ‘n reddingspoging verby is, ek wens net hulle wil feite aanvaar en dit noem wat dit is nl. “body recovery”. Ek weet dit mag ongevoelig klink maar ek hoop hulle het nie die oorspronklike val oorleef nie. Ek kan myself nie indink hoe dit moet voel om ondergrond vasgekeer te wees sonder kos, water, lig of suurstof nie. As hulle oorleef het, het hulle nou op ‘n stadige, wrede manier gesterf.

Frederik ·

As hul die val (blykbaar 80 meter) oorleef het, is dinge wreder as wat dit klink, want niemand sou so ‘n val sonder beenbreuke kon oorleef nie.

alida ·

Ek stem saam daar is nie meer lewens om te red nie. Kry die liggame net daar uit sodat die familie afsluiting kan kry en ‘n behoorlik begrafnis kan reel. Kry hulle baie jammer.

m ·

Mens het ma die hele tyd gehoop hulle sou daai mense uitkry. Dis ma hardseer storie.

Karma ·

Ons kan seker met reg aanvaar dat die mense na 30 dae nie meer leef nie. Wat ‘n aaklige gebeurtenis, lyding en dood moes dit nie wees nie. As hulle só vêr geval het, moes daar breuke en inwendige beserings gewees het. Ons kan net hoop dat hulle opslag dood is.

My mening is: los hulle daar – God het hulle reeds begrawe. Maak die gat toe en rig ‘n mooi gedenkplaat of -steen daar naby op. Hou ‘n gedenk-erediens. ‘n Mens het nie ‘n lyk nodig om te rou of afskeid te neem nie (dit is nou maar my eie persoonlike mening daardie). Maar kry net klaar – deur kort-kort ‘n ‘ander plan’ te bedink, rek julle die gesinne en families se lyding net meer en meer uit. Hulle moet ‘gô thloša Setšhila’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.