Lily-myn: ‘Reddingsoperasies sal hervat word’

Die Lily-myn. Foto: Verskaf.

Die Lily-myn. Foto: Verskaf.

Die Lily-myn buite Barberton het Dinsdag gesê die soektog na die oorskot van die drie mynwerkers wat ondergronds vasgekeer is nadat ʼn skeepshouer nege maande gelede in ʼn reuse-sinkgat geval het, sal binne die volgende ses tot agt maande hervat word.

Rob Devereux, die myn se sakereddingspraktisyn, het gesê die myn is steeds op soek na geld om die operasie te voltooi. Hy het egter volgehou dat genoegsame finansiering voor die einde van die jaar gevind sal word. “Ons kort R200 miljoen en ons hoop om binnekort iets te ontvang,” het Devereux gesê.

Devereux het vroeër gesê die R200 miljoen word benodig om ʼn tweede ingangspunt en ʼn ventilasieskag te boor. Dit word glo volgens regulasies vereis.

“Die Lily-myn is steeds gesluit. Ons sal die reddingsoperasie hervat wanneer die myn veilig verklaar is. Dit sal binne die volgende ses tot agt maande gebeur.” Devereux het bygevoeg dat die myn steeds nie werkers se agterstallige lone vir April en Mei betaal nie.

Drie mynwerkers, Yvonne Mnisi, Pretty Mabuza en Solomon Nyarenda is in ʼn skeepshouer onder die grond vasgekeer toe ʼn gedeelte van die Lily-myn naby Baberton in Mpumalanga op 5 Februarie ineengestort het. Nog twee ineenstortings by ander dele van die myn het kort daarna gevolg.

Vantage Goldfields, die eienaar van die myn, het gesê nagenoeg 90 werkers was ondergronds vasgekeer ná die ineenstortings. Dié maatskappy wat Lily-myn intussen onder sake-administrasie gebring het, het daarna bevestig dat 87 werkers suksesvol na die oppervlak gebring is.

Mike Begg, die myn se operasionele bestuurder, het in Augustus gesê ʼn Kanadese goudmynmaatskappy, Afro Can Resources, het onderneem om die nodige geld te gee, maar het nie sy belofte nagekom nie. Talle Lily-mynwerkers het sedertdien vrywillige skeidingspakette aanvaar en die maatskappy verlaat.

Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alida ·

Wat is daar nou om te red? Ek kan nie sien waar pas die “reddingsoperasie” nou in nie. Die arme mens is al vergaan.

Wilma ·

Kan die verwagte R200 miljoen nie eerder gebruik word om agterstallige salarisse vir April/Mei te betaal nie? Dit sal seker van groter nut wees as daar in mense se daaglikse behoeftes voorsien kan word!

Jeannie du Plessis ·

Ek stem saam dat dit geen doel sal dien om nog R200 miljoen te spandeer. Die myn kan nie verder ontgin word, al die werkers wat daar gewerk het, het hul werk verloor, en het vir maande (dalk al meer as n jaar) geen salarisse of pakkette ontvang nie. Waarom nog mljoene spandeer, die mense is dood en begrawe, niks kan hulle terug bring nie. Die myn is bankrot weens natuurlike oorsake toe dit ingeval het en kan nie verder ontgin word.

Asjas ·

Daar is niks om te red nie!! Betaal die werkers wat nog gered kan word en betaal die families van die mense wat gesterf het. Waarom weier die myn om die feite te erken, asof daar nog hoop is …

Asjas ·

Byvoorbaat jammer as ek ongevoellig klink maar ek persoonlik dink ‘n “reddingsoperasie” is ‘n mors van tyd, geld en plaas ander mense onnodig in gevaar. Onthou die Oosthuizen gesin van 1964? Daar is slegs ‘n gedenkteken naby opgesit met gepaste woorde.

Magrette Louw ·

Asjas, wat het met die Oosthuizen gesin gebeur? Ken nie die voorval nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.