Lily-myn werkers neem skeidingspakkette

Argieffoto

Argieffoto

Baie van die werkers by die Lily-myn naby Barberton in Mpumalanga is by die myn weg nadat hulle vrywillige skeidingspakkette aanvaar het.

Mike Begg, direkteur van mynbedrywighede, het aan African News Agency gesê aangesien die myn steeds onder sakeredding is, het sommige werkers gekies om skeidingspakkette te aanvaar. Die ander werkers is egter steeds by die myn.

Die myn het in Mei bekendgemaak dat werkers vir skeidingspakkette kan begin aansoek doen. Begg het nie bekendgemaak hoeveel werkers sedertdien skeidingspakkette geneem het of hoeveel werkers nog by die myn oor is nie.

Hy het gesê daar word nie tans pogings aangewend om die liggame van Yvonne Mnisi, Pretty Nkambule en Solomon Nyerende na die oppervlak te bring nie. Die drie werkers is in Februarie ondergronds vasgekeer nadat ʼn skeepshouer waarin hulle was onder reuse-rotse en grond beland het toe die ingang na die myn ineengestort het.

“Die werkers by die myn is nog nie hul agterstallige salarisse [van April en Mei] betaal nie. Die werkers wat nog hier is, is saam met ons hoopvol dat ons die befondsing sal kry. Die oorlewing van die maatskappy sal ook bepaal word deur die sakereddingsadministrasie,” het Begg gesê.

Volgens Begg het ʼn Kanadese goudmynmaatskappy, Afro Can Resources, aanvanklik ingestem om die nodige befondsing te voorsien, maar hulle het later kop uit getrek.

Die vakbondfederasie Cosatu en die vakbond NUM het in Julie na die departement van minerale hulpbronne opgeruk en geëis dat die regering en die myn meer moet doen om die liggame van die drie werkers na die oppervlak te bring.

Vincent Mlambo, Cosatu se sekretaris in Mpumalanga, het Sondag gesê die vakbondfederasie is nie bewus daarvan dat sommige werkers skeidingspakkette aanvaar het nie.

Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Met verwysing na Cosato en NUM se onsinnige eise…….. (± 5) dekades gelede het ‘n Oosthuizen gesin onder die grond verdwyn in Blyvooruitzight goudmyn (Carletonville). Die mynbestuur het ‘n monumentsteen laat oprig met woorde wat daarop dui dat ‘God hulle Self te aarde bestel het). By West Driefontein goudmyn (ook Carletonville) het so iets soos 29 mense in die goudaanleg ondergrond verdwyn en is ook vereer met ‘n gedenksteen. Dit kan geredeneer word dat die goudmyn-eienaars destyds eie reg gebruik het met beskerming van ‘n regering wat afhanklik was van goud as (een van) die land se belangrikste bate maar dit kan ook beredeneer word as logika.

John ·

Die maatskappy wag die werkers skynbaar uit, om eise te voorkom. In die VSA doen maatskappye dit glo gereeld om om sodoende kontrakte opgeskort te kry en dan begin hulle weer met die projekte onder ‘n ander naam. Skandalig.

Paul ·

En kyk net hoe entrepreneuries is jy met al die kapitaal wat jy op risiko plaas om ‘n marginale goudmyn te bedryf. *sug*

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.