Limpopo-boer wen waterskeidingsaak om staatsgrond te koop

Argieffoto (Foto: markus53, Pixabay)

ʼn Boer van Limpopo het Woensdag ʼn waterskeidingsaak gewen om staatsgrond te koop wat hy al lank huur.

David Rakgase (78) sukkel al jare lank om die plaas Nooitgedacht naby Northam van die regering te koop. Hy huur die 3 179 hektaar-plaas.

Die Pretoriase hooggeregshof het ʼn besluit van die adjunk- direkteur-generaal van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, om die verkope van die plaas af te keur, tersyde gestel. Die hof het beveel die regering moet die plaas binne 30 dae aan Rakgase verkoop volgens die bepalings en voorwaardes en prys wat van toepassing sou wees as die plaas in 2003 aan hom verkoop sou wees kragtens die Grond en Herverspreiding vir Landbou-ontwikkelingsprogram (GHLOP).

Die departement het in 2003 sy aanbod om die plaas te koop, aanvaar ná die departement vir hom die opsie gegee het om die plaas te koop as ʼn begunstigde van GHLOP (wat intussen opgeskort is). Dié program het ten doel gehad om voorheen benadeelde burgers te help om grond en landbou-implemente spesifiek vir landbou-doeleindes aan te skaf.

Rakgase het die hof genader nadat dit aan die lig gekom het dat die regering nie die grond sal verkoop nie en eerder vir hom ʼn verdere 30 jaar huurooreenkoms aangebied het.

Rakgase het sedert die voormalige Bophuthatswana-era al op Nooitgedacht geboer en die grond is uiteindelik na die Limpopo- provinsiale regering oorgedra ná die 1994-verkiesing. Hy het sedert April 1991 die plaas van die regering gehuur en nooit ʼn huurbetaling gemis nie. Hy bedryf ʼn suksesvolle plaas en ʼn mentorskapprogram om jong opkomende boere by te staan met opleiding en ontwikkeling.

Hy is in 2002 gevra of hy die plaas wil koop as deel van GHLOP. Hy het die voorstel aanvaar en bevestig dat hy van voornemens is om die grond te koop – en die regering het dit aanvaar. Hy het later ʼn brief van die Limpopo-regering ontvang wat bevestig dat hy die nuwe eienaar is.

In 2011 moes hy egter ʼn nuwe vyfjaar-huurooreenkoms met die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming onderteken, ondanks die feit dat die regering agt jaar tevore bevestig het dat hy besig is om die grond en titelakte oor te dra in sy naam.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai), die uitspraak verwelkom.

“Privaat eiendomsreg is die sleutel tot belegging, groei, welvaartskepping en werkskepping – veral in landbou. Dit is die hoeksteen van kollateraal in produksiefinansiering en die bakermat van ekonomiese groei. Dit is betreurenswaardig dat die departement so dikwels deur die howe gedwing moet word om hul mandaat uit te voer,” het De Jager gesê.

“Saai wens hul kollega Rakgase, sy seun, Mmofa, en hul gesin, asook die DA en alle ander organisasies en partye geluk met die deursettingsvermoë wat hulle in die uitgerekte hofstryd aan die dag gelê het. Dit is ’n oorwinning vir honderde ander begunstigdes van grondhervorming wat onder die huidige swak beleidsomgewing gedoem is tot mislukking as bywoners en huurders op staatsgrond.”

Saai fasiliteer op 11 September 2019 ’n boeredag by The Hub Georges Valley in Tzaneen vir ontwikkelende boere en die begunstigdes van grondhervorming in Limpopo, waar hulle versoek het om titelaktes op die agenda te plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Antie ·

Baie geluk., lyk my jy verdien eintlik n verniet plaas, die regering wil dan so graag onteien

Waldo ·

Dankie tog. Hy moes dit gratis gekry, want die kanse is goed een of ander minister sou dit wou gevat het…

Rina ·

Hartlik geluk ……… julle verdien hierdie plaas. Boee voluit

LoodKurkprop ·

Gee hom die plaas,meer plase wat mense leer om te werk en selfstandig te wees is nodig…hoekom moet hy dit koop,hy doen meer met dit as wat menigte ander sou kon regkry.

Seemonster ·

En as hy dit gratis gekry het, was dit die presedent om toekomstige plase af te vat en vir “nuwe boere” te gee . . . .

Wielspore ·

Dit wys net weer dat die motief agter, grond vir die mense, net ‘n politieke spel is.

Arno Scheepers ·

Welgedaan David. Sterkte met die boerdery vorentoe.

Leon ·

Fantasties. Trek die huurgeld van die plaas se prys af, en hy betaal die res in. Ek dink hy verdien die plaas dubbel en dwars.

Piet parys ·

Hys 78 so hoe lank kan hy nog boer . Laat hy dit huur dan betaal hy tenminste iets . Die vraag is wat was die huurbedrag . Peanuts . So met maw as ek huur moet dit aan my gegee word .

Gaitsigubib ·

Gee hom die plaas se voet! Hy word in elk geval genoeg gesubsideer, hy moet ten minste vir die plaas betaal.

TN ·

Geluk aan die DA wat duidelik anders as die opswepers dinge GEDOEN kry !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.