Limpopo-boere beboet oor lone

Argieffoto Foto: led.co.za

Argieffoto Foto: led.co.za

Minstens 10 boere in Limpopo is beboet, party met meer as R1 miljoen, omdat hulle hul werkers glo te min betaal.

Joe Mokou, woordvoerder van die provinsiale departement van landbou, sê arbeidsinspekteurs het oor ‘n tydperk van drie dae plase in die provinsie besoek en op growwe skendings van basiese diensvoorwaardes afgekom.

Hy sê boere wat hulle hieraan skuldig gemaak het is op die plek beboet ten einde salarisse wat aan werkers verskuldig is te verhaal.

Mokou sê van die boetes was soveel as R1 miljoen weens die aantal werkers wat betrokke is. Hy sê van die werkers is glo tot soveel as R1427 onderbetaal en dat baie van die werkgewers nie tot die Werkloosheidsversekeringsfonds bydra nie, al trek hulle dit van die werkers se salarisse af.

Mokou sê die plaasbesoeke het ten doel gehad om vas te stel om werkgewers in die landbousektor voldoen aan die minimum maandelikse loon van R2 227, soos deur die departement vasgestel is. Hy sê boere wat tans nie aan WVF-vereistes voldoen nie is beveel om dit wel te doen.

Hy sê van die werkers werk al vir jare op van die plase maar is nog nooit geregistreer nie.

Volgens Mokou het die inspekteurs ook gevind dat talle werkers sonder die nodige beskermende kleding werk en dat van hulle se verblyf nie vir menslike gebruik geskik is nie. “Ons soek na luukse akkommodasie nie, maar wat ons gevind het is onaanvaarbaar en is nie eers vir honde geskik nie.”

Boere in Limpopo het duisende werkers in hul diens en stel ook seisoenale werkers tydens die oesseisoen aan. – Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Belinda ·

Hoe kom hulle sommer so vinnig op daai bedrag af……………….nou gaan baie mense werkloos wees maar dit darem nie n groot probleem nie, want die wat daai wette en eise stel sal seker maar moet sorg…………………………….jis waar kry n mens so vinnig n miljoen rand?

Renate Barnard ·

Gaan die inspekteurs ook die nuwe Minister van Landbou, Zokwana beboet vir die feit dat sy veewagter slegs R800 per maand verdien en in ‘n gehuggie (nie eens geskik vir ‘n hond nie) moet woon?? O, ek het vergeet – volgens Blade Nzimande was Zokwana net ‘n arm mynwerker wat nie die minimum loon vir sy werker kon bekostig nie!!! Animal Farm se moses – ‘Everybody is equal before the law, but some are more equal than others…. ‘

Marieta ·

Haha. nou wonder ek net hoeveel draadwerk daar gaan wees, vir die kastige onderbetaalde werkers om dan uiteindelik hulle hande op die sogenaamde boetegelde te kan le? Of gaan Zokwana se veewagter daarmee betaal word? As jy self net ‘n arm mynwerker is, hoe kan jy bekostig om vee aan te hou en ook mense indiens te neem om agter hulle te kyk. Snaaks genoeg, ons is arme wit mynwerkers, en kan nie eers bekostig om meer as 1 hond aan te hou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.