Limpopo-broers binne twee weke in fratsongelukke dood

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Familie van Limpopo is in rou gedompel nadat twee broers binne twee weke in fratsongelukke dood is.

Herkie Fourie is twee weke gelede in Tzaneen dood toe hy deur ʼn bakkie raakgery is. Net meer as ʼn week later is sy jonger broer, Jackie (34), op ʼn kleinhoewe buite Bela-Bela dood toe hy deur ʼn kragdraad geskok is.

Mina Fourie, die twee broers se skoonsuster, het gesê Jackie was Saterdagmiddag besig om ʼn TV-antenna op te stel toe die voorval plaasgevind het. “Ek en my man, Gerrie, was in die huis toe ons skielik ʼn lawaai buite hoor en ʼn rooi lig gesien het,” het sy gesê. “Ons het buitentoe gehardloop en vir Jackie op die grond sien lê. Hy het geruk en sy oë het omgerol. Die gras om hom was swart gebrand.”

Mina het gesê hulle vermoed Jackie het per ongeluk met die TV-antenna aan ʼn laaghangende kragdraad geraak en is toe geskok. Hulle het met Jackie na die plaaslike hospitaal gehaas, maar hy is met sy aankoms dood verklaar. “Ek weet nie of hy reeds dood was toe ons hom buite gekry het nie. Dalk was dit net sy spiere wat saamgetrek het van die elektriese skok. Ons het hom probeer bybring, maar daar was niks wat ons vir hom kon doen nie,” het sy gesê.

Volgens Mina moes sy en Gerrie Maandag Jackie se liggaam in die hospitaal gaan uitken en het sy toe eers gesien dat hy ernstige brandwonde opgedoen het.

“Die eienaar van die kleinhoewe het al voorheen die kragdrade wat so laag hang by Eskom aangemeld, maar hulle het nooit iets daaromtrent gedoen nie. Ná Jackie se dood het hulle gekom en die drade geknip,” het sy gesê.

Herkie se begrafnis is Woensdag in Tzaneen gehou. Jackie se begrafnis vind Dinsdag op Bela-Bela plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bruno Stef ·

Dit is baie onduidelik van wat presies gebeur het ek neem aan dat die persoon het die TV antenna teen n gebou probeer vasbout en toe in aanraking met die lewendige geleiers gekom het. Die regulasies bepaal dat geen strukture onder so n elektriese kraglyn opgerig mag word nie of die veilige afstand vanaf die lewende geleier verminder word nie.My innige simpatie aan die naasbestaandes.

Dave ·

Maar Bruno, die rugulasies sal beslis ook ‘n minimum hoogte vir kragdrade bepaal. Dit is ag geneem behoort sy naasbestaandes gronde te hê vir ‘n geldige eis teen ‘n bankrot Eskom.

Rina ·

Die man het nog op die grond gestaan en het slegs die pyp opgelig wat nie eens 2.5 m hoog was nie. Selfs as ‘n kind daai pyp opgelig het sou hy geskok gewees het. Die kragdrade was baie laag

Bruno Stef ·

Dave n mens spekuleer maar net.As dit 11000v was wat normaalweg versprei word in landelike kraglyne kan die minimum hoogte later verklein word as daar BV n opvulling van grond onder so n kraglyn die hoogte verminder het.Dit sal n mens eers kan bepaal as jy al die faktore in ag kan neem.Die paalhoogte is gewoonlik 11meter.

Dave ·

Dit is goed dat jy jou betrek het in die gesprek Bruno want dit is duidelik dat jy meer kennis het met betrekking daartoe as bloot algemene kennis. Wat jy sê is sinvol maar miskien behoort die betrokke families seker te maak of Eskom se kant skoon is. Veral na aanleiding van wat gesê is van drade wat nou (eers) geknip is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.