Die koppe van die twee mense wie se onthoofde liggame onlangs in ʼn bergagtige gebied in Limpopo gevind is, is Donderdag opgespoor.
Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê die verdagte, Nyaka Phasha (54), het ʼn gebied op ʼn berg uitgewys waar hy glo hul koppe oor die krans gegooi het nadat hy hulle glo vermoor en onthoof het.
“Ná ʼn uitgebreide soektog onder moeilike omstandighede, het beamptes van die soek- en reddingseenheid uiteindelik die slagoffers se koppe opgespoor. DNS-toetse sal gedoen word om hul identiteite te bevestig,” het Otto gesê.
Maroela Media het vroeër berig Phasha is in hegtenis geneem nadat die liggame van Elizabeth Madila (57) en Timothy Selimela (41) in ʼn bergagtige gebied in Mafefe, sowat 50km suid van Polokwane, gevind is.
Volgens Otto het Madila en Selimela op 22 Mei hul huise in Ramonoane verlaat om gras bymekaar te maak en ʼn vermiste kalf te soek. Hulle het nooit teruggekeer huis toe nie en is as vermis aangemeld.
Polisiebeamptes en lede van die gemeenskap het ʼn week later tydens ʼn soektog op ʼn liggaam afgekom, maar kon nie by die liggaam uitkom nie. Die polisie se lugvleuel en ʼn soek- en reddingspan is ingeroep en die vrou se liggaam is opgespoor.
Lede van die gemeenskap het Phasha, Madila se kêrel, daarvan beskuldig dat hy haar vermoor het voordat hulle hom aangerand het. Hy is deur polisiebeamptes gered en in ʼn hospitaal in Lebowakgomo opgeneem. Hy is op 1 Junie ontslaan waarna hy die polisie glo na Selimela se onthoofde lyk gelei het.
Phasha het op 10 Junie in die Malipsdrift-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord. Hy is borgtog geweier en moet weer op 17 Junie in die hof verskyn. Die motief vir die moorde is nog nie bekend nie.
Wreedheid in hierdie land ken geen perke.
Waar is Polokwane ? Weet iemand dalk ?
Limpopo, dis die ou Pietersburg
Dankie Desire, so die plek is heeltemal herbou volgens Afrika-standaarde, m.a.w. slaggate, riool wat oorloop, straatligte buite werking, foutiewe munisipale rekenings, beurtkrag, vuil strate ens.
Genl. Piet Joubert sal seker in sy graf omdraai as hy sien hoe dit daar lyk, of hoe ?
Onder die swartes is die naam “Polokoane” wat “rusplek” beteken.
Nogal seker beskrywend op ‘n warm dag in die somer.