Limpopo-krokodilboer ʼn ‘transformasie-suksesverhaal’

William Molekoa op sy krokodilplaas buite Mookgophong.

Die departement van ekonomiese ontwikkeling, handel en nywerheid sê ʼn florerende krokodilboerdery in Limpopo is een van die uitblinkers in sy program om die akwakultuurbedryf in Suid-Afrika te transformeer.

William Molekoa, wie se boerdery naby Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo altesame R1,8 miljoen se geldelike steun van die departement se Akwakultuurontwikkelings- en bevorderingsprogram (ADEP) ontvang het, is klaarblyklik Limpopo se enigste swart krokodilboer en een van net ʼn paar in die land.

ADEP probeer beleggings na die bedryf lok deur ontluikende boere te help groei, produksie te verhoog, werk te skep en die bedryf se geografiese teenwoordigheid te vergroot.

Sedert die projek in 2013 bekend gestel is, het 104 projekte al nagenoeg R2 miljard ontvang en meer as 2 000 werksgeleenthede is sedertdien geskep. Drie en twintig ondernemings is in swart besit.

“Molekoa en die meer as ʼn duisend krokodille wat in die wintersonnetjie langs die damme bak, is ʼn bewys van die klein maar noemenswaardige stappe wat die departement gedoen het om die aangesig van krokodilboerdery in Suid-Afrika te verander,” het die departement gesê.

“Die feit dat krokodilvelle en ‑vleis van ʼn onderneming in swart besit, wat boonop op ʼn afgeleë plaas in Limpopo geleë is, na China, Japan en Italië uitgevoer word, is geen klein prestasie nie.”

Molekoa (66) het ʼn groot deel van sy sukses nie net aan die departement toegeskryf nie, maar ook aan sy wit bure en medeboere, soos sy mentor Albert Pretorius, wat hom touwys gemaak het.

“Ek is baie dank verskuldig aan verskeie wit boere op buurplase wat nie net my aansoek om met krokodille te boer ondersteun het nie, maar ook bygedra het met arbeid, kennis en materiaal toe ons die krokodildamme gebou het,” het hy gesê.

“Dié soort onbaatsugtigheid en positiewe ingesteldheid van ander boere, tesame met die steun van die departement, gaan van die ekonomiese transformasie van wit oorheersde bedrywe soos akwakultuur, ʼn sukses maak.”

Molekoa koop die krokodileiers by ander krokodilboere en gebruik ook hulle fasiliteite om dit uit te broei, voordat hy die klein krokodille na warm vertrekke neem. Op ʼn jaar oud word hulle by die damme gevoer tot hulle oud genoeg is om geslag te word en hulle vleis en velle uitgevoer word.

Molekoa was verlede jaar ook op ʼn besoek aan China danksy ʼn borgskap van die departement van handel en nywerheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Maljan ·

Het Hy al begin terug betaal sodat die volgende boer befonds kan word?

Sarie ·

Daar is baie wit boere wat hul swart bure ondersteun en adviseer, wat goeie verhoudinge bevorder, as die anc, eff en blf dit net wil besef.

Magda ·

Nee dit doen nie – maar iewers moet n begin gemaak word, en hier is n baie goeie begin. Dalk sal n Positiewe houding van ALMAL ook help om ons Land weer n land te maak vir ALMAL. Dankie aan almal wat gehelp het, en baie sterkte aan die BOER met jou besigheid.

Ellisras ·

Een swaeltjie maak dalk nie ‘n somer nie, maar een krokedil maak net wat hy wil.

Gert ·

‘n Belegging van R2000 miljoen vir 2000 werksgeleenthede gee ‘n koste van 1 miljoen per werksgeleentheid. Dus sal hulle al 10 miljoen werkloses kan help vir net
R 10 000 000 000 000. Dalk is dit makliker om vir elkeen R1000 000 te gee en hulle self iets te laat uitsorteer.

oop oge ·

… en waar is die “greenies” nou.
Binnekort floreer die leeu plase :))

Fanie. ·

Hoe kan hiervan nou so n ophef gemaak word, en leeu telers verdoem word? Is die eindresultaat nie dieselde nie? Daar is min leeus in die natuur oor. Hoekom kan mense nie ook met leeus boer en hulle verkoop nie? Dan sal daar mos minder leeus in die natuur geskiet word ook.

Anoniem ·

Hoop dit sal met my ook gebeur ek in proses om sny blomme te begin !!!!

Joey ·

Positiewe nuus in ons negatiewe land. Welgedaan aan die boer en sy buurmanne.

Kaapse Vlakte ·

Swart? Hy lyk meer soos ‘n bruin man, amper soos my cousin daar in Mitchells Plain. Mooi so, ek sê.

Joseph van Eeden ·

En dis alewig die aaklige woord transformasie wat slegs beteken Wittes uit ! Swartes in ! Nooit wie wil dit doen omdat jy goed is daarmee en dis jou passie , ongeag kleur , gender en wat ookal.

pinkie ·

Dit haal die nuus as daar een suksesverhaal is? Food for thought. Ek neem aan die onsuksesvolle verhale haal nie meer die nuus nie?

SjN ·

Geluk met die sukses verhaal, aangesien dit so goed gaan moet die geldelike steun wat die tyd ontvang is begin terug betaal word sodat ander ook op hul voete gehelp kan word. Wys aan die ander dit kan gedoen word.

Andre C ·

Enige suksesverhaal is n positiewe in hierdie land van ons. Ek hoop nie krokodille raak die teiken van poachers nie ,soos alles wat die Chinese benodig nie.

Scalla ·

Stamina opkikker gereg vir tonnelvisie deur chinese, krokodil pote in suur room op toast.

susan ·

Ons land is baie siek baie siek almal is nie regs en haatdraend nie.

jd ·

Kan ek nie ook asb so lening kry om my besigbeid op die been te bring nie? Ek sal die geld terug betaal. Of mag wit mense nie hulp kry nie. En dan kry hy borgskap ook van departement af om China te besoek. As hy so goed doen hoekom kon hy nie self sy trippie betaal nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.