
William Molekoa op sy krokodilplaas buite Mookgophong.
Die departement van ekonomiese ontwikkeling, handel en nywerheid sê ʼn florerende krokodilboerdery in Limpopo is een van die uitblinkers in sy program om die akwakultuurbedryf in Suid-Afrika te transformeer.
William Molekoa, wie se boerdery naby Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo altesame R1,8 miljoen se geldelike steun van die departement se Akwakultuurontwikkelings- en bevorderingsprogram (ADEP) ontvang het, is klaarblyklik Limpopo se enigste swart krokodilboer en een van net ʼn paar in die land.
ADEP probeer beleggings na die bedryf lok deur ontluikende boere te help groei, produksie te verhoog, werk te skep en die bedryf se geografiese teenwoordigheid te vergroot.
Sedert die projek in 2013 bekend gestel is, het 104 projekte al nagenoeg R2 miljard ontvang en meer as 2 000 werksgeleenthede is sedertdien geskep. Drie en twintig ondernemings is in swart besit.
“Molekoa en die meer as ʼn duisend krokodille wat in die wintersonnetjie langs die damme bak, is ʼn bewys van die klein maar noemenswaardige stappe wat die departement gedoen het om die aangesig van krokodilboerdery in Suid-Afrika te verander,” het die departement gesê.
“Die feit dat krokodilvelle en ‑vleis van ʼn onderneming in swart besit, wat boonop op ʼn afgeleë plaas in Limpopo geleë is, na China, Japan en Italië uitgevoer word, is geen klein prestasie nie.”
Molekoa (66) het ʼn groot deel van sy sukses nie net aan die departement toegeskryf nie, maar ook aan sy wit bure en medeboere, soos sy mentor Albert Pretorius, wat hom touwys gemaak het.
“Ek is baie dank verskuldig aan verskeie wit boere op buurplase wat nie net my aansoek om met krokodille te boer ondersteun het nie, maar ook bygedra het met arbeid, kennis en materiaal toe ons die krokodildamme gebou het,” het hy gesê.
“Dié soort onbaatsugtigheid en positiewe ingesteldheid van ander boere, tesame met die steun van die departement, gaan van die ekonomiese transformasie van wit oorheersde bedrywe soos akwakultuur, ʼn sukses maak.”
Molekoa koop die krokodileiers by ander krokodilboere en gebruik ook hulle fasiliteite om dit uit te broei, voordat hy die klein krokodille na warm vertrekke neem. Op ʼn jaar oud word hulle by die damme gevoer tot hulle oud genoeg is om geslag te word en hulle vleis en velle uitgevoer word.
Molekoa was verlede jaar ook op ʼn besoek aan China danksy ʼn borgskap van die departement van handel en nywerheid.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
22 Kommentare
Jippie!!!
Het Hy al begin terug betaal sodat die volgende boer befonds kan word?
Ja ja en die wit man moet weer help !!!!!
Een swaeltjie maak nie n somer nie !
Een swaeltjie maak dalk nie ‘n somer nie, maar een krokedil maak net wat hy wil.