Limpopo, KZN kry oornag 200 mm reën

Letaba-laagwaterbrug (Foto: Tonel Thom/SANParks – Kruger National Park/Facebook)

Dele in KwaZulu-Natal en Limpopo het die afgelope naweek oornag meer as 200 mm reën gekry en die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku oor nóg reën vir die komende week.

Volgens die weerdiens se reënverslag het sowat 294 mm reën Vrydag oornag in die Tshivhase-omgewing in Limpopo geval. Die Thohoyandou-omgewing het oor die naweek byna 300 mm reënval in geheel aangemeld, met 113 mm reën wat Sondag in 24 uur geval het. In Tzaneen, ook Limpopo, is altesaam 266 mm reën die afgelope week aangeteken. Die Levubu-omgewing het in dieselfde tydperk altesaam 224 mm reën gekry.

By Charters Creek naby St. Lucia in KwaZulu-Natal is 242 mm reën Saterdag aangeteken. Altesaam 173 mm is dieselfde dag by die Mbazwana-vliegveld, 165 mm in Richardsbaai en 135 mm in Riverview aangemeld.

Altesaam 98 mm reën is Sondag in Barberton in Mpumalanga aangeteken, gevolg deur Komatidraai met 58 mm reën. Talle oorstromings is in dié gebiede aangemeld.

In Gauteng het 70 mm reën Sondag in Lanseria geval en dele van Johannesburg het tot 42 mm reën in 24 uur gekry.

Maandag is ʼn oranje vlak 9-waarskuwing teen swaar reën vir die Laeveld van Mpumalanga en langs die platorandgebiede van Limpopo en Mpumalanga uitgereik.

Nwaswitshaka-burg (Foto: SANParks – Kruger National Park/Facebook)

Lehlohonolo Thobela, ʼn weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê wydverspreide reën- en donderbuie word tot die naweek vir die sentrale, noordelike en noordoostelike dele van die land voorspel, waaronder provinsies soos Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng, Noordwes, Vrystaat en die Oos-Kaap.

Woensdag is daar ʼn 80%-kans op swaar reën en donderbuie in Gauteng, die oostelike dele van noordwes en die suidwestelike dele van Limpopo. Teen Donderdag sal hierdie swaar weer na die sentrale dele van die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal versprei.

Hannelee Doubell, woordvoerder van die weerdiens, sê die aanhoudende reën oor die naweek kan toegeskryf word aan ʼn stadigbewegende afsnylaagdrukstelsel, wat oor die binneland gebly het. Dit het saamgegaan met die teenwoordigheid van ʼn bykomende laagdrukstelsel oor suidelike Mosambiek en noordelike KwaZulu-Natal.

Hierdie afsnylaagtepunt het teen die einde van die naweek aansienlik verswak, maar die weerdiens voorspel dat ʼn vars reënstelsel na vore tree, wat tans na Zimbabwe vanuit die ooste na binne beweeg, en na verwagting in die komende dae weswaarts sal beweeg.

“Hierdie stelsel sal waarskynlik verdere aanhoudende en swaar reën vir die noordoostelike en noordelike provinsies veroorsaak,” sê Doubell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

En hier in Slaapstad vergaan ons van die hitte! Ek voel soe lus om iewers buite toe te hardloop en laat ‘n lekker reen oor my rol.

Koen ·

Dis mos nie ongewoon nie. Julle reën is in die winter. Dis lekker daar in die Kaap.

Nico ·

Wat wil die mens hê, kla as dit te warm is, kla as dit te winderig is, kla as dit droog is, kla as dit te veel reën, kla as dit te koud is, waaroor sal die mens nog kla. Wees dankbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.