Limpopo-man gered wat dae lank gestrand was

(Foto verskaf)

ʼn 47-jarige man wat dae lank in die middel van die Letabarivier in Tzaneen op ʼn boomstomp gestrand was, is veilig gered.

Die man is Donderdag deur die provinsiale rampbestuurspan gered. Hy was al sedert Sondag vasgekeer op die boomstomp, maar weens voortgesette swaar reën in die provinsie en die stygende watervlak, kon hy nie die rivier oorsteek nie.

Die soek- en reddingseenheid moes Dinsdagaand sy pogings opskort toe die rivier te sterk gevloei het.

Basikopo Makamu, provinsiale LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, het vroeër sy kommer uitgespreek oor die man se welstand, aangesien hy dae lank sonder kos of water moes klaarkom. Hy het sy vertroue uitgespreek in die “dapper mans en vroue op die grond” wat aan die reddingspoging deelgeneem het.

Makamu het bygevoeg twee mense het Dinsdag in afsonderlike voorvalle in die provinsie verdrink. Hul liggame is gevind.

“Limpopo is een van die provinsies wat onder die nasionale ramptoestand geplaas is weens buitengewone reën wat dele van die land teister. Ons maan ons inwoners om oorstroomde riviere te vermy.”

Sewe verdrink in Mpumalanga-vloede

Intussen het Thoko Mashiane, provinsiale voorsitter van ActionSA, die organisasie se meegevoel betuig met die families van minstens sewe mense wat reeds tydens oorstromings in Mpumalanga verdrink.

Polisiewoordvoerder brig. Selvy Mohlala het gesê die liggame van drie van die slagoffers is reeds gevind. Vier persone word nog vermis. Die persone is van Nkomazi, Nelspruit en Piet Retief.

ActionSA maan inwoners wat naby riviere en damme of in laagliggende gebiede woon om ekstra voorsorgmaatreëls te tref tydens die reënseisoen. “Of jy nou loop of iewers heen ry, maak seker dat jy oorstroomde riviere vermy en eerder wag vir die reën om verby te gaan.”

Die organisasie versoek dat die provinsiale regering dadelik behuising sal verskaf vir diegene wat deur die vloede dakloos gelaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Dit het my ook opgeval Renier, maar miskien was die water gevaarlik laag en onbereikbaar.

Burt ·

mater, leer gerus by eddie staford wat oorlewing behels, en hoe om te oorleef in moeilike tye

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.