Limpopo-man glo verdoof, ontvoer

Dié foto van Jacques Petzer is in 2013 geneem. (Foto: Facebook/Jacques en Susan Petzer)

Skrywer: Justin Steyn

Twee mans is in hegtenis geneem nadat ʼn sakeman van Limpopo Woensdag bedwelmd in ʼn woonstel op Burgersfort, 150 km van waar hy kos gekoop het in Polokwane, wakker geword het.

Die laaste ding wat Jacques Petzer onthou voordat hy in die vreemde woonstel wakker geword het, is hoe hy uit ʼn winkel in Polokwane na sy motor gestap het.

Jacques se vrou, Susan Petzer, het Donderdag aan Maroela Media verduidelik dat Petzer onlangs werk gekry het in Polokwane en Maandag 31 Mei na vriende op dié dorp gery het, waar hy sou tuisbly. Hy sou Dinsdag by sy nuwe werk begin.

“Hy het my ongeveer 18:30 Maandag laat weet dat hy in Polokwane is en dat hy net gou kos gaan koop,” het Susan gesê. Susan het egter niks weer van hom gehoor nie en hom Dinsdag reeds as vermis aangemeld.

Volgens haar het Jacques eers weer twee dae later telefonies kontak gemaak en gesê dat hy op Burgersfort, minstens 150 kilometer van Polokwane, “wakker geword het”.

“Hy het gesê dat hy nie seker is wat gebeur het nie en het vertel dat hy by ʼn woonstel aangehou word. Hy het vir my ʼn pin drop via WhatsApp gestuur, wat gewys het dat hy op Burgersfort naby ʼn klomp woonstelle is.”

Met behulp van die leier van die Vryheidsfront Plus in Limpopo, Marcelle Maritz, is lede van die Heritage Protection Group (HPG) en die polisie ontbied om na Jacques te soek.

Susan sê volgens Petzer was hy in dié stadium nog onder die invloed van ʼn verdowingsmiddel en het hy sy selfoon vir die verdagtes probeer wegsteek om nie agterdog te wek nie.

Jacques is dieselfde dag nog deur die polisie in ʼn woonstel op die boonste verdieping van ’n woonstelblok op Burgersfort aangetref.

Maritz vertel dit was ʼn riem onder die hart om te sien hoe lede van die gemeenskap saam met die polisie werk om Jacques op te spoor.

Volgens Maritz is twee verdagtes gearresteer en ʼn saak van ontvoering by die polisiestasie op Modimolle oopgemaak. Jacques ken nie die verdagtes nie en het geen idee wat die rede vir sy ontvoering kon wees nie. Geen van sy besittings is ook gesteel nie. Maroela Media wag nog vir die polisie om dié inligting te bevestig.

Volgens Susan is Jacques Woensdagaand by die Dilokong-hospitaal opgeneem en vroeg die volgende dag ontslaan.

“Ons is baie bly dat Jacques veilig is en ons almal herstel goed onder omstandighede,” het Susan gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Tolletjie ·

Kyk ek is baie bly hy is ongedeerd, maar…. Hy was nog onder die invloed van ‘n verdowingsmiddel maar helder genoeg om sy selfoon weg te steek sodat die ontvoerders nie agterdogtig word nie???

Annelize ·

Iets strook glad nie hier nie, en ek het die berig meer as eenkeer gelees om seker te maak ek het nie iets mis gelees nie.

As jy ontvoer word, is die eerste ding wat spat, jou selfoon, juis om opsporing moeilik te maak, maar hy het heeltyd sy foon by hom gehad? Jammer, maar ek dink nie die volle waarheid word hier gepraat nie.

melaney ·

Ek wonder wat beteken “pin drop”. Enigiemand al daarvan gehoor?

Linx ·

Jip ds in kort gese “pin drop location”, layman’s terms is dt om jo location t stuur

Lourens CFG ·

“Pin drop” is dieselfde as om jou ligging met “location” of “live location” te stuur.

Linx ·

Ook bly hys veilig,maar ooooo die storie klink baie baie vreemd,soos gese is eerste ding spat d foon in n ontvoering as dit ek was was my foon se battery al die eerste dag dood, gelukkig vir hom het hy nog oorgenoeg battery power gehad na 2 dae ,ai meneer so baie gate in jou storie,maar God dank jys tuis

Anel ·

Hoop hulle het bloed getrek om te bepaal waarmee hy verdoof is.

Anton J ·

Ek het hierdie berig letterlik sewe maal oor gelees. Hier is ‘n slang in die gras met hierdie storie. Hou die “space” dop, hier kom weer lekker nuus met n wenteling. Hy is verdoof, weet nie waar hy is nie maar hy kan sy foon weg steek. Tussen die verdowing en ontvoering, wanneer het hy geslaag om sy foon weg te steek? Ek is jammer, die eerste wat geneem sal word en weg gegooi sal word is ‘n foon as iemand ontvoer word vir opsporing doeleindes. Ek sluk baie swaar aan hierdie storie. Maar net my mening en opinie maar ek is bly sy vrou het hom opgespoor. Die dame moes rasend gewees het van bekommernis. Knap gedaan mevrou, jy is die held in hierdie storie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.