Limpopo-man het nié koronavirus

Argieffoto (Foto: ANA)

Die departement van gesondheid in Limpopo het Woensdag gesê ʼn man wat in isolasie geplaas is weens hoë koors en verkouesimptome, het negatief getoets vir die koronavirus.

“ʼn Werknemer van die Groblersbrug-grenspos (tussen Suid-Afrika en Botswana), wat ʼn hoë koors gehad het, is getoets vir die koronavirus en die toets was negatief,” het Neil Shikwambana, woordvoerder van die departement, gesê.

Hy het aan Jacaranda FM gesê die pasiënt was in isolasie by die Modimolle MDR-hospitaal tot ʼn diagnose gelewer kon word. Daar was verhoogde paniek weens die moontlikheid tot besmetting omdat die man in kontak was met bagasie en toetsing van persone wat die grens wil oorsteek.

Dr Phophi Ramathuba, provinsiale LUR vir gesondheid, het gesê die departement het professionele verpleegsters en omgewingsgesondheidpraktisyns by die grenspos vir moniteringsdoeleindes.

Dit kom ná die regering van Botswana vyf vermoedelike gevalle van die koronavirus by die Sir Seretse Khama- internasionale lughawe aangemeld het. Die land se minister van gesondheid het Maandag egter gewaarsku dat die gevalle nog nie tot dusver bevestig is nie.

Thato Mntambo, bestuurder van korporatiewe sake by Mercedes-Benz Suid-Afrika, het intussen ook gesê gerugte op sosiale media dat die koronavirus by sy aanleg in Oos-Londen uitgebreek het, is vals.

“Daar is geen gevalle of vermoedens van die koronavirus in Suid-Afrika nie. Die nasionale departement van gesondheid monitor die situasie en tot dusver is geen gevalle aangemeld nie,” het Mntambo gesê.

Werknemers en verskaffers van Mercedes-Benz kan verseker wees dat maatreëls in plek gestel is om enige gevalle van die koronavirus te monitor en te bestuur, het hy bygevoeg. Dié maatreëls sluit in dat alle kontrakwerkers wat die afgelope twee weke van China teruggekeer het, in kwarantyn geplaas is en daagliks getoets word. Die liggaamstemperatuur van lynpersoneel word ook daagliks gereeld gemonitor. “Indien enigiemand simptome toon van die koronavirus, sal hulle na die gepaste gesondheidsorgfasiliteite oorgeplaas word.”

Mntambo het bygevoeg Mercedes-Benz is ook in gesprek met die departement van gesondheid in die Oos-Kaap om op hoogte te bly van enige verdere verwikkelings.

“Ons wil dit graag benadruk dat personeel en verskaffers van Mercedes-Benz Suid-Afrika gerus kan wees dat die maatskappy goed toegerus is om enige gevalle van die koronavirus op te spoor en te bestuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae