Kol. Ronel Otto, provinsiale woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het in Mankweng, oos van Polokwane, plaasgevind. “Die voertuig met twee mans is deur vloedwater van ʼn pad by Boyne meegesleur, nadat dit erg gereën het,” het sy gesê.
“Die bestuurder kon daarin slaag om betyds uit die bakkie te kom, maar die 26-jarige passasier was in die bakkie vasgekeer en is saam met die vloedwater meegesleur.”
Volgens Otto het die soek-en-reddingspan twee dae na die man gesoek voordat die bakkie Woensdagmiddag ongeveer 3 km van die toneel af opgespoor is. Die man was reeds dood.
ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen, het Otto gesê. Die plaaslike polisie in Mankweng kon nie onmiddellik bereik word om die oorledene se naam te bevestig nie.
Die reël is: Moenie deur water ry waardeur jy nie sou kon loop of swem nie. Die krag van die water wanneer dit eers teen die kante van ‘n voertuig begin druk, is BAIE meer as die krag van ‘n bakkie se enjin, en as die water eers die voertuig van sy bande af gelig het, is dit verby. Ook indien die enjin uitsny omdat dit water sluk.
Selfs water wat vlak is, kan ‘n bakkie maklik wegsleur.