Limpopo-man vas oor onthoofde lyke

Foto: SAPD

Foto: SAPD

ʼn 54-jarige man van Limpopo is in hegtenis geneem nadat twee onthoofde lyke in ʼn bergagtige gebied gevind is.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê die onthoofde liggame van Elizabeth Madila (57) en Timothy Selimela (41) is in ʼn bergagtige gebied in Mafefe, sowat 50km suid van Polokwane, gevind.

Volgens Otto het Madila en Selimela op 22 Mei hul huise in Ramonoane verlaat om gras bymekaar te maak en ʼn vermiste kalf te soek. Hulle het nooit teruggekeer huis toe nie en is as vermis aangemeld.

Polisiebeamptes en lede van die gemeenskap het verlede week tydens ʼn soektog op ʼn liggaam afgekom, maar kon nie by die liggaam uitkom nie. Die polisie se lugvleuel en ʼn soek- en reddingspan is ingeroep, wat op ʼn vrou se onthoofde lyk afgekom het.

Lede van die gemeenskap het die oorledene se kêrel daarvan beskuldig dat hy haar vermoor het voordat hulle hom aangerand het. Hy is deur polisiebeamptes gered en in ʼn hospitaal in Lebowakgomo opgeneem. Hy is Maandag ontslaan waarna hy die polisie glo na Selimela se onthoofde lyk gelei het.

Volgens Otto word die oorledenes se koppe steeds vermis. Die verdagte is weer in die hospitaal opgeneem en die saak sal Dinsdag in die verdagte se afwesigheid in die Malipsdrift-landdroshof aangehoor word. Die motief vir die moorde is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.