Limpopo-ongeluk: Hulle ‘bou ’n huis in die hemel’

Zaskia da Silva het ook in die ongeluk omgekom (Foto: Zaskia da Silva, Facebook)

“Mamma is nou by Pappa in die hemel.”

Só het die driejarige Divan da Silva gesê ná sy ma, Zaskia (29), Vrydag in ’n ongeluk gesterf het. Hy en sy jonger broer, Liam, wat agt maande oud is, is nou wees agtergelaat.

Da Silva se man en die twee seuns se pa, José da Silva, is verlede jaar dood.

Da Silva en haar halfsuster, Kayla Smith (18), was Vrydagmiddag saam met Charles van der Walt (52), ’n bekende makelaar van Polokwane, in sy motor op pad terug van Haenertsburg na Polokwane toe die ongeluk plaasgevind het. Dit is nie seker hoekom hulle saam in die voertuig was of van waar hulle op pad was nie.

Maroela Media het vroeër berig die ongeluk het omstreeks 15:00 op die R71 plaasgevind. Van der Walt het glo beheer oor die motor verloor, waarna dit die pad verlaat, gerol en ’n boom getref het.

Die motor het sowat 25 m van die boom tot stilstand gekom en aan die brand geslaan. Daar was nie ander voertuie in die ongeluk betrokke nie.

Van der Walt en Da Silva is op die toneel dood verklaar. Met paramedici se aankoms op die toneel het hulle Da Silva nog in die brandende motor aangetref en uit die voertuig gered. Sy het egter later weens haar beserings beswyk.

Smith is tans in ’n kritieke toestand in die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane. Volgens haar ma, Liza Venter, bly haar toestand onveranderd en kry die familie nie antwoorde oor die pad vorentoe nie.

Charles van der Walt was ‘n bekende makelaar in Polokwane (Foto: Charles van der Walt, Facebook)

Mari Buitendag, Da Silva se ouma, sê Da Silva het haar net ná die ongeluk gebel. Da Silva het by Buitendag grootgeword en het haar as ma beskou.

“Ek het nie eens geweet hulle het die dag iewers heen gery nie. Sy het die oggend by Kayla gaan kuier. Sy het my die middag gebel en gesê: ‘Mamma, ek …’ En toe sny haar foon af. Sy het daar vermoedelik haar laaste asem uitgeblaas.”

Divan en Liam woon nou by Buitendag. Buitendag woon in ’n huis saam met haar vriend, Gert Buitendag. Haar suster, Anette Smith, woon in die woonstel op hul erf. Da Silva se biologiese ma, Wanda Badenhorst, woon ook in die stad.

“Tussen die vier van ons sal ons mooi na Divan en Liam kyk.”

Da Silva was sewe maande swanger met Liam toe José in September dood is.

Volgens Buitendag soek Liam sy ma om elke hoek en draai, maar Divan sê hy verstaan sy ma is nou in die hemel.

“Mamma is ook na Liewe Jesus toe soos Pappa. Hulle bou nou saam ’n huis in die hemel,” het Divan vir Buitendag gesê toe sy hom vertel het van sy ma se ongeluk.

Da Silva en Buitendag het saam ’n stofferingsonderneming in Polokwane, genaamd Mizpah, bestuur.

“Zaskia was net ’n lieflike mens. Sy het nooit kwaad in iemand gesien nie en nooit sleggepraat van iemand nie. Sy was geliefd onder mense op die dorp en veral onder haar klante. Ek sal haar gesiggie en daardie groen oë van haar vreeslik mis.”

Die motor het gerol en aan die brand geslaan (Foto: ER24)

Da Silva en Van der Walt was goeie vriende. Van der Walt was ook haar finansiële makelaar. Volgens Buitendag het Da Silva die grootste respek vir Van der Walt gehad en hom as ’n vaderfiguur beskou.

Van der Walt was die direkteur van CJ Makelaars in Polokwane.

Mariana van der Walt, sy ma, sê hy was uiters hardwerkend, dinamies en het baie deursettingsvermoë gehad.

“Hy het as jong man in die tagtigerjare as konsultant by ’n versekeringsmaatskappy in Polokwane begin werk. Hy het werk toe gestap omdat hy nie ’n motor gehad het nie. Hy het só goed gevorder dat hy in 2012 sy eie onderneming begin het,” vertel Mariana.

Hy was een van vyf kinders en laat sy broers, Koos, Henk, Johan, en suster, Hester, agter. Hy word ook oorleef deur sy vrou, Jacolien, en kinders, Charles en Annerie. Jacolien en Annerie is onderwyseresse en Charlie boer.

Volgens Mariana was Van der Walt ‘n groot gesinsman en het hy sy gesin altyd eerste geplaas. Hulle was ‘n baie hegte gesin.

“Hy was ’n wonderlike seun en gerespekteerde lid van die gemeenskap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Toy ·

Dalk het ‘n band gebars. Mens sal nooit weet nie.
Baie sterkte aan die familie en gesin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.