Limpopo-pa skiet baba per ongeluk dood

(Argieffoto: pixabay)

’n Pa van Limpopo is Sondag in hegtenis geneem nadat hy per ongeluk sy sewe maande oue babaseuntjie met ’n luggeweer doodgeskiet het.

Die tragiese voorval het hom by die gesin se huis in Maololo in die GaMashabela-nedersetting afgespeel terwyl die pa voëls gejag het.

Die babaseuntjie is tydens die voorval in die bors getref. Sy ouers het dadelik met hom na die plaaslike kliniek gehaas waar hy met sy aankoms dood verklaar is.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê albei ouers is ná die kind se dood deur polisiebeamptes ondervra. Dit het toe aan die lig gekom dat die pa buite die huis besig was om voëls met ’n luggeweer te jag toe hy sy seuntjie per ongeluk geskiet het.

Die pa is sedertdien in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op die luggeweer.

Die man sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof in Nebo op aanklag van moord verskyn.

“Gemeenskappe moet te alle tye veiligheid in ag neem wanneer hierdie soort wapens hanteer word,” sê genl.maj. Jan Scheepers, waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Limpopo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

ES ·

Sjoe dis baie hartseer… Basiese veiligheid geld vir windbukse of “luggewere” ook. Dit is is juis die rede hoekom lisensies vroer jare nodig was vir hierdie tipe wapens. Baie tragies.

Cherokee ·

ES, sover ek onthou kon ‘n nommer 1 windbuks al die jare gekoop word sonder ‘n lisensie. Lisensie was nodig vir ‘n no 2 windbuks, wat ‘n groter koëltjie skiet.

piet ·

Verbeel ek my of is dit dat die reg deesdae korrek toegepas word na die Oscar debakel waar nie eens die ‘n regter die skuld-vereistes lekker verstaan het nie (kan jy dit glo?). Ek het ‘n vermoede dat sulke gevalle in die verlede oorwegend as strafbare manslag vervolg is.

Marcello ·

Ek voel jammer vir die ouers, veral die Pa, want dit was ‘n ongeluk. Hy gaan vir die res van sy lewe daarmee moet saamleef.

piet ·

As dit nalatig was sou hulle hom van strafbare manslag aangekla het. Ek het reeds met Oscar se saak gese dat die korrekte vertolking van dolus eventualis (een van die opsetvereistes) nog baie mense met lang trane gaan laat huil want hulle gaan aangekla word van moord in gevalle soos die.

André ·

Antwoord aan Cherokee: Ek moes destyds my nr 1 windbuks lisensieer. Dit het intussen verander dat jy net nr 2 moet lisensieer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.