Limpopo-plaasaanvalle: 3 in hof, 1 steeds soek

Argieffoto: Lorraine Claasen

Argieffoto: Lorraine Claasen

Die drie verdagtes wat Saterdag in hegtenis geneem is in verband met ʼn plaasaanval in die Haenertsburg-gebied buite Tzaneen in Limpopo, het Maandag in die landdroshof verskyn terwyl die soektog na ʼn vierde verdagte voortduur.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die drie het laat Maandag in die Haenertsburg-landdroshof verskyn, waarna die saak tot vandag [Dinsdag] uitgestel is. Hulle staan tereg op aanklag van huisroof en aanranding.

Die drie mans is Saterdag in hegtenis geneem in verband met die aanval op die bejaarde egpaar, Richard en Anika Wiggel, Donderdag om 03:00 op hul plaas in die omgewing.

Vier verdagtes het glo vensters gebreek om by die huis in te kom. Hulle het die egpaar oorval en aangerand voordat hulle met ʼn onbekende bedrag geld, ʼn radio, televisie en drie selfone in die egpaar se Isuzu-bakkie gevlug het.

“Al die gesteelde huisware, waaronder ʼn televisie, is teruggevind. Die gesteelde bakkie word egter nog vermis,” het Mojapelo gesê. Mojapelo het gesê die soektog na ʼn vierde verdagte duur voort.

“Die polisie vermoed dat dié verdagte in besit is van die egpaar se gesteelde bakkie, ʼn wit Isuzu KB250 met die registrasienommer CVV887L. Die polisie is op soek na Thomas Nkuna wat ons moontlik in die ondersoek kan bystaan.”

Hy het gesê mense wat die bakkie sien of weet waar Nkuna hom bevind, moet ao. Aubrey Ngamune by 082 414 3031 bel.

Mojapelo het aan Maroela Media bevestig dat die polisie in die proses is om die verdagtes te verbind met die aanval op nóg ʼn bejaarde egpaar ʼn dag later op hul kleinhoewe naby die Magoebaskloof-hotel.

Vier gewapende mans het Vrydag omstreeks 20:30 toegang tot die egpaar, wat verkies om anoniem te bly, se houthuis verkry. Hulle het glo deur die badkamervenster toegang verkry en die egpaar in die huis oorval en vasgebind. Die vrou is in die gesig geslaan en die man oor die kop.

Die aanvallers het die huis geplunder en omstreeks 22:30 die huis verlaat met die man se twee vuurwapens, ʼn rewolwer en ʼn haelgeweer, ʼn skootrekenaar, die egpaar se bankkaarte, sleutels en hul selfone.

“Die vrou kon daarin slaag om los te kom en sy het haar man losgemaak. Haar man wou hulp ontbied, maar die verdagtes was nog in die erf en hulle het op hom geskiet toe hy uitgegaan het. Die koeël het ʼn glasdeur getref en gelukkig die man gemis,” het Marius Jacobs, stigter van die Watchdog Tzaneen-inisiatief, vroeër aan Maroela Media gesê.

Die egpaar het uit vrees vir hul lewe die hele aand in hul huis geskuil en Saterdag 05:00, toe dit begin lig word, na die Magoebaskloof-hotel gestap en hulp ontbied. Hulle moes sowat 2 km stap aangesien hul motorhuissleutels onder die sleutels was wat die rowers gesteel het.

Volgens Jacobs is die eerste verdagte Saterdag in die Mhlaba Cross-nedersetting opgespoor. Van die gesteelde ware in die eerste huisroof, asook die motorhuissleutels van die tweede egpaar is glo in sy besit gevind.

Lees die vorige berigte oor die Haenertsburg-plaasaanvalle op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Estelle ·

Dankbaar die skelms is gevang en ek hoop dat hul glad nie borg kry nie. Sterkte aan die polisie vorentoe.

Estelle ·

Dankbaar dat die boosdoeners gevang is en ek hoop dat die vierde verdagte gou vasgetrek sal word. Sterkte vorentoe aan die polisie, jul is in my gebede.

Annie ·

So dankbaar die Polisie het hulle gekry – hoop hulle kry die 4de een ook vinnig – maar verniel hulle en maak hulle ook so seer soos wat hulle aan die oumense gedoen het, hulle verdien meer as dit, hulle is skurke, laag en gemeen,

PMB ·

Wel gedaan SAP op julle goeie werk! Ons vertrou dat die susteem julle nie sal te na kom nie en dat die boewe sommer baie lank sal sit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.