Limpopo-plaasaanvalle: Drie verdagtes vasgetrek

Argieffoto: Lorraine Claasen

Argieffoto: Lorraine Claasen

Drie verdagtes, wat moontlik verbind kan word met twee onlangse aanvalle op bejaarde egpare in die Haenertsburg-gebied buite Tzaneen in Limpopo, is in hegtenis geneem.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die drie verdagtes is Saterdag in hegtenis geneem tydens ʼn taktiese en intelligensiegedrewe operasie.

“Die drie word verbind met die huisroof wat Donderdag in die vroeë oggendure op ʼn plaas plaasgevind het. Al die gesteelde huisware, waaronder ʼn televisie, is teruggevind. Die gesteelde voertuig, ʼn Isuzu-bakkie, word egter nog vermis,” het Mojapelo gesê.

Marius Jacobs, stigter van die Watchdog Tzaneen-inisiatief, het Sondag aan Maroela Media gesê die verdagtes word met die jongste aanval, Vrydagaand op ʼn egpaar wat op ʼn kleinhoewe naby die Magoebaskloof-hotel woon, verbind.

“ʼn Selfoon wat by die egpaar gesteel is se ligging is Saterdagmiddag in die Mhlaba Cross-nedersetting opgespoor. Met verdere ondersoek deur die polisie het hulle ʼn verdagte aangekeer wat gesteelde goedere van Donderdag se huisroof in sy besit gehad het. Die egpaar wat Vrydagaand beroof is, se motorhuissleutels is ook in sy besit gevind. Die selfoon is egter nog soek,” het Jacobs gesê.

Maroela Media het Saterdag berig die egpaar wat naby die Magoebaskloof-hotel woon, en verkies om anoniem te bly, is Vrydagaand skaars ʼn dag ná die bejaarde egpaar, Richard en Anika Wiggel, in dieselfde omgewing aangeval.

Vier gewapende mans het toegang tot die egpaar se houthuis verkry, vermoedelik deur die badkamervenster, en die egpaar in die huis oorval en vasgebind. Die vrou is in die gesig geslaan en die man oor die kop.

Die aanvallers het die huis geplunder en omstreeks 22:30 die huis verlaat met die man se twee vuurwapens, ʼn rewolwer en ʼn haelgeweer, ʼn skootrekenaar, die egpaar se bankkaarte, sleutels en hul selfone.

“Die vrou kon daarin slaag om los te kom en sy het haar man losgemaak. Haar man wou hulp ontbied, maar die verdagtes was nog in die erf en hulle het op hom geskiet toe hy uitgegaan het. Die koeël het ʼn glasdeur getref en gelukkig die man gemis,” het Jacobs vroeër gesê.

Die egpaar het uit vrees vir hul lewe die hele aand in hul huis geskuil en Saterdag 05:00, toe dit begin lig word, na die Magoebaskloof-hotel gestap en hulp ontbied. Hulle moes sowat 2 km stap aangesien hul motorhuissleutels onder die sleutels was wat die rowers gesteel het.

Richard en Anika Wiggel is Donderdag om 03:00 ook deur vier mans oorval, aangerand en beroof.

Die verdagtes het glo vensters gebreek om by die huis in te kom. Hulle het die egpaar oorval en aangerand voordat hulle met ʼn onbekende bedrag geld, ʼn radio, televisie en drie selfone in die egpaar se Isuzu-bakkie gevlug het.

Mojapelo het Sondag gesê nadere ondersoek word gedoen om vas te stel of die verdagtes met albei voorvalle en ander misdrywe verbind kan word.

Die verdagtes moet binnekort in die hof verskyn. Die soektog na die vierde verdagte duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Alida ·

Mooi SAPD ! As die goed in hulle besit gekry is is hulle dadelik skuldig en nie meer verdagtes nie. Gooi die sel se sleutels weg.

WitBlits ·

Goeie werk en mag geregtigheid geskied!
Dalk was dit nie nodig dat Mnr Jacobs moes verwys dat die selfoonsein gehelp het om die ligging van gesteelde goed weg te gee nie. Onthou die skelms leer ook uit ander se foute en raak slimmer met ‘n ander misdaad.

Donovan ·

Lekker man… is net n jammer hulle het ni probeer vlug nie… ai ek sou laaik om saam daai 4 in n sel toe gesluot te word… hulle is so lafhartig sonder wapens…

Pik ·

Maak soos in ander lande kap hulle hande af mmmm in SA sal dit n probleem wees van 90% van die land gaan geen hande he nie

snoefie ·

ek vra weer, was die vuurwapens nie in hulle besit behind nie?

Judge ·

Arresteer is een ding (waarvoor ek die polisie op die skouer klop) maar die aankla en skuldigbevinding en vonnisse is deesdae ‘n baie groter probleem. Lyk of die manne in die regsberoep te BANG is om die regte besluit te maak. Wonder net of elkeen net sy posisie en inkomste probeer beskerm en of daar iets meer sinisters hieragter sit?

Sue ·

Uitstekende werk deur die SAP. Al waaroor ek wonder is of hulle nou net aangekla word vir huisroof? Die Grondwet moet n klag instel op “boere aanval” met n minimum straf sonder verswarende faktore.

Liza ·

Goeie werk ….. maar hulle sal seker nie lank sit nie……dis mos ‘n lekker land hierdie…..

GES ·

Die slagoffers van die rooftog moet asb nie instem as die slenter voorgehou word dat die verdagtes ook by ander sake betrokke is, die sake aan mekaar gekoppel moet word. Wat gewoonlik gebeur is dat die ander klaer die klag terugtrek en dan word die beskuldigdes / verdagtes vrygelaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.