Limpopo-polisie maak nóg ʼn deurbraak ná plaasaanval

‘n Geweer waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

Die Limpopo-polisie het binne ʼn week nóg ʼn deurbraak gemaak en vermeende plaasaanvallers aangekeer.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê dié jongste sukses volg met die inhegtenisneming van vier verdagtes, tussen 32 en 40 jaar oud, in verband met huisrooftogte en ʼn plaasaanval in die Lephalale (Ellisras)-gebied.

“Die verdagtes word moontlik verbind met ʼn reeks huisrooftogte die afgelope maand in die gebied. Een daarvan was ʼn huisroof op 12 Julie op ʼn plaas buite die dorp. ʼn Gesin is in hul huis oorval en beroof, maar niemand is beseer nie,” het Ngoepe gesê.

Die polisie het beslag gelê op gesteelde goedere asook twee vuurwapens, ammunisie en ses selfone.

Die verdagtes moet binnekort in die Lephalale-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

Dié sukses volg ʼn week nadat beamptes van die Lephalale (Ellisras)-speurtak en die Bela-Bela-opsporingseenheid ʼn aantal vuurwapens in voormalige plaaswerkers se besit gevind het. Dié wapens is vroeër die maand op ʼn plaas in die Tomburke-omgewing gesteel.

Maroela Media het vroeër berig die huisbraak het die naweek van 8 en 9 Julie plaasgevind. Daar is aanvanklik vermoed drie verdagtes het op die plaas toegeslaan, maar daar is later vasgestel vier verdagtes was betrokke. Die eienaar van die plaas was nie tydens die voorval tuis nie.

Volgens die polisie het die verdagtes by die huis ingebreek en vermoedelik ʼn hoekslyper gebruik om die kluis oop te sny waarna hulle weg is met waardevolle besittings, ʼn bedrag in Amerikaanse dollar, vuurwapens en ʼn Isuzu-bakkie. Hulle het vier jaggewere wat ook in die kluis was op een van die beddens in die huis agtergelaat.

ʼn Taakspan is vinnig saamgestel nadat die inbraak aangemeld is en het dadelik begin om leidrade op te volg. Die bakkie en vier plasma-televisiestelle is vinnig teruggevind.

Die verdagtes is verlede Woensdag deur die taakspan in die Phagameng-nedersetting in Modimolle (Nylstroom) in hegtenis geneem. Hulle bly in aanhouding terwyl hofprosedures in die Tomburke-landdroshof voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JA ·

Gaan die polisie nou, as die saak afgehandel is, daardie vuurwapens, veral daai mooi jag geweer, terug besorg aan die regmatige eienaars? EK GLO NIE

Magda ·

Dankie aan die Polisie wat goeie diens gelewer het, en JA hoop die gemors word lank gevonnis en stel bietjie HARDE ARBEID in die tronke in- Hier is baie werk buite wat gedoen kan word deur hulle wat die STAAT baie geld gaan en kan spaar – Hulle kry verniet verblyf, kos, Medies en alles – so hulle kan begin werk daarvoor – Dalk sal dit hulle bietjie afskrik as HARDE ABEID INGESTEL WORD IN DIE TRONKE, met goeie en betroubare toesig.

Anoniem ·

Dis ‘n baie slim plan! Hulle kan sommer begin om die slaggate in die paaie regmaak.

Reinhardt ·

Uitstekende werk manne! Lekker om vir n slag goeie nuus te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.