Limpopo-polisie vang nóg renosterstropers

Argieffoto

Argieffoto

Vyf vermeende renosterstropers is in twee afsonderlike voorvalle oor die naweek in die Gravelotte-omgewing in Limpopo aangekeer. Dit bring die aantal inhegtenisnemings sedert die begin van Maart in die provinsie op 21 te staan.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die eerste inhegtenisnemings het Saterdag omstreeks 21:00 plaasgevind. “Beamptes van die spesiale renosterstropery-ondersoekspan het inligting opgevolg dat stropers beplan om ʼn renoster op ʼn wildsreservaat in die Harmony-omgewing van Gravelotte te gaan skiet,” het Otto gesê.

“Die verdagtes se voertuig is opgespoor en op ʼn grondpad afgetrek. Drie persone is in hegtenis geneem nadat daar ʼn .303-jaggeweer, ʼn knaldemper, ammunisie, twee byle en messe in hul besit gevind is.”

Otto het gesê die beamptes was steeds besig op die toneel toe hulle inligting ontvang het van nog ʼn groep verdagtes wat in dieselfde omgewing in ʼn voertuig rondry. “Dié voertuig is ook vinnig opgespoor en die beamptes het beslag gelê op ʼn .375-jaggeweer, twee knaldempers, ammunisie, ʼn byl, ʼn panga en ʼn mes. Twee verdagtes is in hegtenis geneem.”

Volgens Otto was die reeksnommers op albei jaggewere afgevyl en die oorsprong van die vuurwapens word ondersoek.

Die vyf verdagtes het reeds Maandag in die Phalaborwa-landdroshof verskyn. Die saak is tot 20 April uitgestel vir verdere ondersoek. Hulle bly in aanhouding.

Otto het gesê die spesiale renosterstropery-ondersoekspan is verantwoordelik vir die inhegtenisnemings van al 21 verdagtes in die provinsie. “Met die uitsondering van een voorval in die Bela-Bela-omgewing het beamptes die vermeende stropers aangekeer voordat hulle in staat was om ʼn renoster te skiet en te onthoring,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Delia ·

Goeie nuus vroeg op ‘n Maandag oggend! Baie dankie en welgedaan aan die betrokke ondersoekspan!

KarooKlong ·

Delia, jy sal moet wakker skrik en aan die gang kom.
Vandag is al Dinsdag.
Ek stem wel saam, baie geluk aan die span.

Davce ·

Jou reaksie op Delia se mistasting kon komies gewees het en ‘n lag ontlok het indien jy net oor die kommunikasievermoë beskik het om dit te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.