Limpopo-sakeman op Oukersdag vermoor

(Argieffoto)

Die polisie in Dennilton buite Groblersdal het ʼn soektog van stapel gestuur na die persone wat die sakeman Doctor Ramatsetse Matea in die vroeë oggendure van 24 Desember doodgeskiet het.

“Die polisie is omstreeks 06:00 in kennis gestel van ʼn liggaam wat in die gebied gevind is,” het brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, gesê. “Beamptes het vinnig saam met paramedici reageer. Met hul aankoms op die toneel is die oorledene met verskeie skietwonde aangetref.”

Die voorlopige ondersoek wys dat Matea en sy gesin in hul huis lê en slaap het toe drie gewapende mans omstreeks 02:50 ingebreek het. “Hulle het kontant geëis en die huis geplunder.”

Matea se vrou en drie kinders is vasgebind waarna die verdagtes Matea na sy Toyota-bakkie gedwing en met hom weggery het. “Die slagoffers kon loswikkel en het die polisie ontbied. Die voertuig is later verlate gevind naby Thambo View.”

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.