Limpopo-sakeman vas vir nóg ʼn moord

Rameez en Fatima Patel. Foto: Facebook

ʼn Sakeman van Limpopo wat teregstaan vir die moord op sy vrou in 2015, is Vrydag weer in hegtenis geneem nadat hy glo met sy ma se onlangse moord verbind is.

Rameez Patel (30), die sakeman wat daarvan beskuldig word dat hy sy vrou, Fatima (28), vermoor het, moet Maandag in die Polokwane-landdroshof verskyn op nog ʼn aanklag van moord.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe het gesê die Westenburg-polisie het ná ʼn intensiewe ondersoek ʼn deurbraak in die onlangse moord op sy ma, Mahejeen Banu Patel (51), gemaak en die “verdagte” daarmee verbind.

Mahejeen en haar huishulp was omstreeks 19:00 in haar huis in Nirvana in Polokwane (Pietersburg) toe ʼn gewapende verdagte op hulle losgebrand het. Mahejeen is gewond en na ʼn hospitaal gehaas waar sy ʼn paar uur later gesterf het. Haar huishulp is ongedeerd. Niks is uit Mahejeen se huis gesteel nie.

Maroela Media het vroeër berig Fatima is op 10 April 2015 in die egpaar se huis in Nirvana verwurg en doodgeskiet. Rameez, wat borgtog toegestaan is, ontken dat hy enige aandeel in sy vrou se moord gehad het en beweer sy is tydens ʼn huisbraak vermoor. Die saak sou binnekort in die hooggeregshof in Polokwane hervat word.

Rameez se pa, Feroz Patel (54), is in Augustus 2016 in die Ladine-nywerheidsgebied in Polokwane in raaiselagtige omstandighede in sy motor doodgeskiet. Die polisie het destyds gesê Feroz is deur vier mans in ʼn grys Volkswagen agtervolg waarna ʼn jaagtog ontstaan het. Feroz het beheer oor sy motor verloor en teen ʼn heining gebots. Die verdagtes het uit hul motor gespring en hom doodgeskiet voordat hulle ʼn sak uit sy kattebak gehaal en verdwyn het. Die polisie sal ondersoek instel of Rameez moontlik met dié voorval verbind kan word.

Lees alle vorige berigte oor Rameez Patel op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boet Fasie ·

Klink of die kereltjie almal stilmaak wat moontlik kan praat, gee nie om of hulle sy ouers is nie. !As daar bewyse is dat dit wel hy is wat verantwoordelik vir al die persone se dood moet hy in die tjoekie gaan gegooi word en die sleutel weggegooi word .

snoefie ·

klink of sy pad met lyke besaai lê. word in vorige berigte genoem dat hy vir tony adams se moord ook gearresteer was. wat het geword van diè aanklag aangesien dit in die berig nie genoem word nie? dan kry hy elke keer net weer borg! beslis nie om sy kinders te versorg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.