Limpopo se skoolbestuurspanne moenie aanmeld nie

(Argieffoto)

Die departement van onderwys in Limpopo het Sondag skoolbestuurspanne in die provinsie versoek om nie Maandag aan te meld vir diens nie.

Die minister van basiese onderwys het op 30 April aangekondig dat skole trapsgewys gaan heropen en graad 7 en graad 12 begin op 1 Junie 2020. Sy het gesê skoolbestuurspanne moet op 11 Mei 2020 aanmeld om voorbereidings te tref vir die infasering van die twee grade.

Skole mag egter heropen onder streng Covid-19-verwante voorwaardes en protokol. Dit sluit skoolgeboue, kantore en die gesondheid van leerders, onderwysers en ondersteuningspersoneel in.

“Die massiewe aanvraag vir persoonlike beskermingstoerusting (PPE) deur talle ondernemings landswyd het ʼn vertraging veroorsaak in die verskaffing van materiaal aan skole, kantore en ander onderrigfasiliteite,” het Tidimalo Chuene, woordvoerder van die provinsiale departement, in ʼn verklaring gesê. “Skoolgereedheidsmateriaal wat bestel is, sluit ontsmettingsmiddels, maskers, skoonmaakmiddels en infrarooi termometers in. Aflewering sal na verwagting binne die volgende paar dae geskied.”

Die departement werk ook saam met die provinsiale beheerraad en tegniese komitee om seker te maak hy voldoen aan alle voorwaardes. “Hierdie proses duur voort,” het Chuene bygevoeg.

Die departement het ook ʼn paar werkstrome ingestel waarvolgens vakbonde en ander belanghebbendes kan deelneem om die vordering tot skoolgereedheid te monitor.

“Die departement stel dus die datum uit vir die terugkeer van skoolbestuurspanne. Ons sal binnekort bekend maak wanneer hulle kan terugkeer. ʼn Omsendbrief is aan die distrikdirekteure en streekbestuurders gestuur om dit te kommunikeer aan alle beamptes, onderwysers en ondersteuningspersoneel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marius ·

Gaan kyk hoe lyk die strate , waaraan NIKS gedoen word nie . Die skole sal duisend maal duisend meer doen om risiko te beperk . Maak oop !

Agge nee ·

En die private skole moet op hulle hande sit omdat die staat se sake nie in orde is nie. Soos ek die staat ken, sal dit ook nooit wees nie. Sommige skole het nou nog nie handboeke nie en hulle deel al uit van September af. Ons kinders is veiliger in die skool as op straat.

Francois ·

Ek het dit al 100 maal gese. Hoekom gaan werk as jy vol salaris kry en op vakansie is en bog storie dat hulle help om die kinders te leer. Ek se weer vat weg hulle salaris tot hulle weer oopmaak en kyk hoe gou smeek hulle om weer te kan skool gee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.