Limpopo se vermeende “hamerman” vasgetrek

David Mamvura. Foto: Verskaf / SAPD

David Mamvura. Foto: Verskaf / SAPD

Die sogenaamde “hamerman” wat op nege aanklagte van huisbraak en verkragting tereg staan, is Sondag weer in hegtenis geneem nadat hy die polisie vir sowat ʼn jaar lank ontduik het.

David Mamvura, ‘n 23-jarige Zimbabwiër, is in Polokwane (Pietersburg), Limpopo, in hegtenis geneem.

Mamvura is meer as ʼn jaar gelede die eerste keer in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn bejaarde egpaar in hul huis in Bodensteinstraat oorval het. Die egpaar is met ʼn mes aangehou, waarna die 76-jarige vrou verkrag is. Twee selfone is tydens die voorval gesteel.

Mamvura het in Augustus 2013 in die hof verskyn en is op borgtog van R2 000 vrygelaat. “Hy is op borgtog vrygelaat, al het die staat sterk teenkanting gelewer én hoewel daar bewys is dat hy onwettig in die land was,” het brig. Hangwani Mulaudzi, ʼn polisiewoordvoerder, in ʼn verklaring gesê.

Mamvura het die borg betaal en is vrygelaat. Hy het nooit vir sy verhoor opgedaag nie. ʼn Lasbrief vir sy inhegtenisname is uitgereik. “Hy word reeds met nege voorvalle van huisbraak en verkragting in Polokwane verbind, en die moontlikheid bestaan dat hy by nog sake betrokke was.”

Een van die sake waarmee Mamvura glo verbind kan word, het in Augustus 2012 in Baymanstraat plaasgevind. “ʼn Egpaar is in hulle huis aangeval en die man is erg met ʼn hamer aangerand. Die vrou is verkrag, en die verdagte het met twee selfone gevlug.”

Nog ʼn voorval het in Oktober 2012 in Du Plessisstraat plaasgevind. “Die verdagte het by ʼn tuinwoonstel ingebreek en ʼn 22-jarige vrou vasgevind en verkrag. Hy het ʼn televisie, skootrekenaar en twee selfone gesteel.”

Volgens Mulaudzi is Mamvura Sondagmiddag in hegtenis geneem nadat die polisie op ʼn wenk gereageer het. Hy sal na verwagting Maandag in die Polokwane-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marietjie ·

Onwettig in die land en hy kry borg? Wat ‘n sirkus. Gaan hulle hom nou weer borg gee om weer te verdwyn en verder te plunder en te verkrag?

SNEL ·

Aarde!!!! So much vir reg en geregtigheid. Ek wonder of daar nog lande is waar onwettige immigrante so oor die grens vrylik kan kom soos in Suid Afrika. Borgtog???!!!! Hoe de hoenders!! Met n verkragtingsaak en nog n illegal immigrant, daai ander verkragtings slagoffers moet die staat dagvaar, as reg en geregtigheid na die eerste misdaad uitgevoer was, sou daar nie nog gevalle gewees het nie.

lorayne ·

Wil ek nou vandag ‘n vreeslike onchristelike ding kwytraak . . .
Ek lê hierdie misdadiger se bedrywighede voor die deur van die BOX wat hom in die eerste plek vrygelaat het op borgtog! Ek wou nog sê dis jammer hy kon nie huisbesoek aflê by die BOX se huis nie, maar sy onskuldige familie kan seker nie vir sy wandade boet nie!

pop ·

Al die slagoffers wat na borgtog geteiken is moet die staat dagvaar, dis verregaande

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.