Limpopo-skole bang om as stempunte te dien

Minister van staatsveiligheid, Dipuo Letsatsi-Duba. (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Sommige skole in Vuwani in Limpopo weier om hulle persele as stempunte te verhuur, weens vrese dat gefrustreerde kiesers hulle geboue kan beskadig.

Suid-Afrikaners stem Woensdag in die nasionale verkiesing.

Die regering se veiligheidsgroepering, onder leiding van die minister van polisie, Bheki Cele, het vandag ʼn aanpassing gegee van die staat se gereedheid om ʼn vry en regverdige verkiesing te verseker.

“Daar is (skool-) hoofde wat weier om huurooreenkomste met die OVK (Onafhanklike Verkiesingskommissie) te onderteken, sodat hulle die skole as kiessentrums kan gebruik. Die getal skole staan nou op ses,” het Cele, wat vergesel is deur die minister van binnelandse sake, Siyabonga Cwele, en die minister van staatsveiligheid, Dipuo Letsatsi-Duba, in Pretoria gesê.

Cele het gesê burgers in gebiede waar skole geweier het dat hulle persele gebruik word, sal in weermagtente stem. “Die weermag gaan hulle tente as alternatiewe stemlokale beskikbaar stel. Die weermag bewaak nie stempunte nie, maar omdat dit hulle eie tente en fasiliteite is, sal hulle daarvoor verantwoordelikheid neem,” het Cele gesê.

Siyabonga Cwele, minister van binnelandse sake. (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Cwele het gesê danksy die veiligheidsgroepering se gerusstelling, het die getal skole wat steeds weier om hulle persele beskikbaar te stel, beduidend verminder.

“Onthou dat ʼn hele aantal skole in Vuwani afgebrand is. ʼn Mens moet dus begrip hê vir die vrese van diegene wat verantwoordelik is vir die administrasie van die skole. Dit was die grootste hindernis om ooreenkomste met die OVK aan te gaan. Danksy samesprekings het die getal skole verminder van 13 na ses. Dié ses skole is nog skrikkerig om die OVK toe te laat om hulle persele te gebruik,” het Cwele gesê.

Die veiligheidsgroepering het vandag planne bekend gemaak vir die grootskaalse ontplooiing van staatsveiligheidsmasjinerie en -beamptes, veral in provinsies soos KwaZulu-Natal en Noordwes, wat as brandpunte geïdentifiseer is.

Letsatsi-Duba het gesê ondanks voorverkiesingsontwrigting in Gauteng, het dié provinsie genoeg hulpbronne om enige gebeurlikheid op verkiesingsdag behoorlik te hanteer.

“Die twee provinsies wat ons (as brandpunte) genoem het, is spesifiek uitgewys omdat hulle versterkings benodig. Ons glo Gauteng het genoeg hulpbronne om enige bedreigings of betogings wat ʼn verkiesing onmoontlik sal maak, te hanteer. Dit beteken egter nie daar is nie konflikpunte in Gauteng nie, daar is heelwat,” het sy gesê.

Die regering het Suid-Afrikaners vandag weer verseker dat daar op verkiesingsdag geen sogenaamde verbode gebiede gaan wees nie.

In Suid-Afrika word verkiesingstyd gekenmerk deur ʼn toename in diensleweringsbetogings. Sommige gemeenskappe dreig ook om stemmery te ontwrig tot politici aandag aan hulle griewe gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MW ·

As die elektrisiteitsvoorsiening en paaie lyk soos dit by ons lyk kan jy hul nie blameer nie. Dit is genoeg om van depressief te raak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.