Limpopo-skoliere vir voedselvergifting getoets

Argieffoto.

Argieffoto.

Meer as 200 skoliere van Sekhukhune, Limpopo is vandeesweek in twee hospitale behandel vir moontlike voedselvergiftiging, het die provinsie se departement van gesondheid Woensdag gesê.

Volgens Macks Lesufi, woordvoerder van die departement, het van die leerlinge gebraak en ander oor maagkrampe gekla. Hy het gesê minstens 100 leerlinge is Maandag by die Jane Furse-hospitaal ondersoek, behandel en ontslaan. Drie kinders is in die hospitaal opgeneem.

Altesaam 133 leerlinge is dieselfde dag in die St Ritas-hospitaal behandel, en twee is opgeneem. Agt skoliere is Dinsdag by dieselfde hospitaal behandel, en een is opgeneem. Die drie leerlinge wat by dié hospitaal opgeneem is, is reeds ontslaan.

Lesufi kon nie sê of die leerlinge siek geraak het weens besmette kosvoorraad wat deur die nasionale skoolvoedingskema aan hul skole verskaf is nie.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van onderwys, kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Daar is vroeër berig dat nagenoeg 300 leerlinge van sekere skole in Sekhukhune mediese behandeling moes ontvang nadat hulle in September en Oktober besmette kos van die voedingskema geëet het. Die leerlinge is behandel vir diarree, lighoofdigheid, naarheid en krampe.

Die departement van onderwys het ʼn ondersoek van stapel gestuur en stukkies glas en klippe in elke sak boontjies wat by verskillende skole oopgemaak is, ontdek. Die skole is aangeraai om glad nie die boontjies te gebruik nie.

Die departement het op 6 November aangekondig dat die kontrakte met Amandla Karabo en Dingatana dadelik gestaak is nadat hulle aan die kosbesmetting verbind is. Die departement wil die polisie betrek om die voorval verder te ondersoek en moontlik kriminele aanklagte teen die maatskappye aanhangig te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hettie Snyman ·

Ek week van skole in die Vaaldriehoek waar die voedingskema se toebroodjies aan die kinders VERKOOP word deur die onderwysers

Ghost ·

Hettie, dink jy moet daai skole se name raporteer. Dis ons belasting geld wat betaal vir daai kindertjies om kos te he, dit gee daai onderwysers geen reg om dit te verkoop nie. Hulle moet aan die pen gery word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.